Zulu Wedding – sy kan nie van tradisie of haar hart ontsnap nie

Zulu Wedding is die langverwagte romantiese komedie deur vervaardiger en regisseur, Lineo Sekeleoane. Dit is die eerste Suid-Afrikaanse fliek met ’n swart vrou as vervaardiger en regisseur en sy was ook self verantwoordelik vir die storiekonsep. Die rolprent is romanties, glansryk en skreeusnaaks en is ’n huldeblyk aan die Afrika-kultuur. Dit gee erkenning aan die soms skisofreniese realiteit van stedelike Suid-Afrikaners, wat moderne en gesofistikeerde lewens ly, wat steeds gevorm word deur familiekulture, tradisie en verwagtinge.

Die vurige koreograaf, Lou “Lungile” (Nondumiso Tembe), sal enigiets doen om nie verlief te raak nie en selfs nog meer om nie terug te gaan na haar tuisland, Suid-Afrika, waar sy beloof is aan ’n koning nie. Wanneer sy egter haar sielsgenoot, Tex (Darrin Dewitt Henson), ontmoet word sy gedwing om die tradisie te konfronteer, waarvan sy al weghardloop sedert haar ouers se dood toe sy agtien geword het en moes verantwoording doen vir die voorouer-skuld waarmee hulle haar agtergelaat het. Sy beraam ’n plan om die koning te konfronteer en hom te oortuig om van haar te vergeet, maar wanneer sy die aantreklike koninklike raadgewer, Zulu (Pallance Dladla), nader om haar te help om in die paleis te kom, ontdek sy dat hy gevaarlik sjarmant is en al die beste aspekte van haar kultuur en agtergrond verteenwoordig.

Tex, sy wysneus-vriend, Nate (Carl Payne), Lou se eksentrieke verkeerskonstabel-sussie, Mabo (Makgano Mambolo), en haar beste vriendin, Sam (Bubu Mazibuko) – ’n alkoholis wat dinge sê soos dit is, vaar die ‘platteland’ in om haar te red, terwyl haar Oom Phineas (Jerry Phele), sy sexy vrou, Yvonne (Kelly Khumalo), en “The Basotho 10,” (met die TKZee-familie se Gwyza as leier) agterbly. Dit skep die perfekte agtergrond vir komiese insidente, manewales en hartseer.

Volgens Sekeleoane, werk sy al tien jaar aan die fliek. “Die idee het begin in die ongevalle-afdeling van ’n hospitaal toe ek besig was om ’n humoristiese scenario vir een van my aktrise-vriendinne te skep. Sy het van die idee en die karakter – ’n maltrap verkeerskonstabel wat nooit haar uniform uittrek nie – gehou, maar soos wat die karakters ontwikkel het, het die fokus na die karakter se suster, Lou, verskuif en is Zulu Wedding gebore,” verduidelik sy. “Mabo bly egter ’n belangrike karakter en Makgano Mamabolo vertolk haar rol uitstekend. Die hele span akteurs was ongelooflik. Nadat ek oudisies in New York, Los Angeles en Johannesburg gedoen het en honderde akteurs oor die jare oorweeg het, kan ek waarlik sê dat die rolverdeling puik is. Elke persoon het iets spesiaal na die projek gebring,” sê Sekeleoane.

Met ’n opwindende draaiboek deur Julie Hall en uitstekende kinematografie deur die bekroonde Lance Gewer van Tsotsi-faam, beloof Zulu Wedding om kykers te vermaak met ’n omvattende, speelse ervaring, wat hulle sal laat ontspan en wegvoer na ’n ander wêreld. Dit sal veral aanklank vind by diegene wat gehou het van Happiness is a Four-letter Word en My Big Fat Greek Wedding.

Die sterbelaaide rolverdeling sluit in, Nondumiso Tembe (True Blood, King Kong The Musical); Darrin Dewitt-Henson (Soul Food, Lincoln Heights, Stomp The Yard); Pallance Dladla (Tempy Pushas, Isibaya, Hard To Get); die skreeusnaakse Carl Payne (Martin, The Cosby Show); Bubu Mazibuko; Kelly Khumalo; Lorcia Cooper, S’thandiwe Kgoroge; Treasure Tshabalala; Kole Omotoso en Makgano Mamabolo, met gasrolle deur DJ Tira, Carolyn Steyn en baie ander geliefde Suid-Afrikaanse akteurs.

Noemenswaardige feite:
Suid-Afrika se voorste kostuumontwerper en -stileerder, Sheli Masondo, het klere gewerf van bekende modehuise, soos Thula Sindi, Sheldon Cooper (Naked Ape), Paledi (Palse), Laduma (MaXhosa), David Tlale;
Die kuns wat in die fliek gewys word, is geskep deur die bekroonde Kaapse kunstenaar en illustreerder, Loyiso Mkhize;
Musiek op die klankbaan sluit in, Maggz (HipHop – SA), Kelly Khumalo (Soul – SA), Joseph Benjamin (R&B – Nigerië,) Goapele (R&B – VSA) en vele meer;
Zulu Wedding begin ’n nasionale jeugontwikkelingsinisiatief saam met Brand Laiki & DBE;
Zulu Wedding se fliekbekendstelling sal voorafgegaan word deur Zulu Wedding (die roman), geskryf deur Dudu Busani-Dube, skrywer van die Hlomu-reeks, gevolg deur ’n Zulu Wedding – The Fairytale-kinderboekreeks, geskryf deur Makgano Mamabolo en met illustrasies deur die Kaapse kunstenaar en Kwezi Comics-stigterslid, Loyiso Mkhize. Dit sal ook in verskeie Afrika-tale vertaal word;

Die Luju Pictures-rolprent is vervaardig in samewerking met Brand Contact, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF), die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), Die Kwazulu Natalse Rolprentkommissie (KZNFC), Die Gautengse Rolprentkommissie (GFC), M-Net Movies en Tsoga Afrika;

Oor die hoofakteurs:

Nondumiso Tembe (Lou Sabata)
Nondumiso Tembe is in Durban, Suid-Afrika, gebore. Hierdie bekroonde aktrise, sanger, liedjieskrywer en danser is sterk op pad om een van Afrika se grootste internasionale sterre te word. Sy het in New York grootgeword, waar haar ouers die eers swart Suid-Afrikaners was wat musiek studeer het by die bekroonde Juilliard-musiekskool. Tembe het ’n meestersgraad in Beeldende Kunste en Toneelspel van die Yale School of Drama. Sy het ook ’n BA-graad in Beeldende Kunste in Teater en Politieke Wetenskap, met Afrika as hooffokus, van New York se New School University en het een somer ook Klassieke Teater studeer aan die British American Dramatic Academy by Oxford Universiteit in England. Tembe het haar televisie-debuut gemaak in HBO se True Blood. Sy was ook al te sien in Generations, Six en Michael Jackson: Searching for Neverland, en het rolle gehad in verskeie bekende Amerikaanse trefferreekse, soos NCIS en in ABC se speurreeks Castle. Sy was ook te sien in Suid-Afrika se eerste swart-musiekblyspel, King-Kong.

Darrin Dewitt Henson (Tex Wilson)
Darrin Henson is ’n akteur, skrywer, en choreograaf en is bekend vir sy rol in die televisiereeks, Soul Food. Hy was ook in drie seisoene van die ABC-familiereeks, Lincoln Heights en die Lifetime TV-reeks, Black Magic, saam met Vivica Fox. Henson het ook verskeie fliekrolle op sy kerfstok, waaronder The Express, Tekken en Stomp the Yard. As verhoogakteur, het hy al sy buiging gemaak in David Talbert se toneelstuk, Fabric of Man. In 2016, was Henson ook ’n lektor in Johannesburg, Durban en die VSA. Hierdie talentvolle ster, was ook die regisseur van die fliek, Violation, en het as choreograaf opgetree vir musiekvideos en konserte van bekende musikante soos New Kids on the Block, Jordan Knight, Britney Spears, Backstreet Boys, 98 Degrees, NSYNC en die Spice Girls. Hy is benoem vir ’n NAACP Image-toekenning vir Uitstaande Akteur in ’n Dramareeks.

Pallance Dladla (Zwelibanzi ’S’thembiso’ Zulu)
Pallance Dladla het bekendheid verwerf as naaswenner van die tweede seisoen van die SABC 1-realiteitsprogram, Class Act, in 2011. Die ster het in Soweto grootgeword en was van jongs af versot op toneelspeel. Hy het verskeie toekennings gewen vir sy toneelstuk, Milk and Bread, en was die naaswenner in die landswye DALRO-beurskompetisie in 2010. Pallance het op skool ook die Parktown Boys High Oorspronklike Draaiboek-toekenning gewen, asook die toekenning as Beste Akteur. Dladla was al te sien in die eTV drama-reeks, 4Play: Sex Tips for Girls, die Mzansi Magic telenovela, isiBaya, en die SABC 1 drama-reekse, Tempy Pushas en Intersexions. Hy het ook ’n rol gehad in eTV se gewilde sepie, Rhythm City.

Pallance het ook internasionaal naam gemaak as die ster van die suksesvolle Suid-Afrikaanse fliek, Hard To Get.

Die Luju Pictures-rolprent is vervaardig in samewerking met Brand Contact, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF), die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), M-Net Movies en Tsoga Afrika, en sal landwyd vrygestel word deur Ster Kinekor Entertainment, op 23 Februarie 2018.

Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/zuluweddingmovie/
Twitter: www.twitter.com/zuluweddingmovi
Web: www.zuluweddingmovie.com
Instagrag: https://www.instagram.com/zuluweddingmovie
Hutsmerk: #SayIDo

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?