Vyf wenke vir gesonde hande en naels

Jou hande en naels het in die winter ’n bietjie ekstra sorg nodig. Probeer dié vyf wenke:

1. Vertroetel hulle
Naels kan in droë weer bros raak en makliker breek. Bevog jou naels met ’n ryk galambotter-balsem. Dis nuttig om ’n klein buisie daarvan in jou handsak te hou en direk op jou naels te vryf.

2. Minder naellak
Naellak verhoed dat vogrome en balsems jou naels bevog. Hou jou naels gesond deur niks bo-oor te verf nie en bevog dit elke keer as jy room aan jou hande smeer. Wanneer jou naels nie meer so maklik breek of afskilfer nie, kan jy weer naellak probeer.

3. Versorg jou naelvliese
Droë naelvliese wat boonop bloei, benodig ekstra sorg, maar dis meer morsig as prakties om heeldag ’n balsem of naelvliesolie aan te wend. Gebruik eerder ’n naelvliespen soos Essie The Cuticle Pen sodat jy ’n tikkie olie kan aanwend.

4. Meng jou eie doepa
Smeer ’n helende salfie aan en trek ’n paar katoensokkies wat jy pas uit die tuimeldroër gehaal het, vir 30 minute oor jou hande. Dit maak die porieë oop en die hitte help die vogroom behoorlik deurdring.

5. Handskoene is handig
Trek volgende keer rubberhandskoene aan as jy die skottelgoed was. Daar is soveel prettige keuses beskikbaar dat jy verbaas sal wees hoe funksioneel én pragtig dit kan lyk sonder om jou naels te beskadig.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?