Vredendal Sportklub hou jaareindfunksie

Vredendal Sportklub het op Dinsdag 28 November hul jaareindfunksie by Letsatsi Lodge op Vanrhynsdorp gehou. Die sportklub het aan persone wat ’n aktiewe rol op sportgebied en ook dié wat goed presteer het vanjaar, erkenning gegee.

Gasspreker Anita Engelbrecht het gaste inspireer met haar storie en bemoedigende woorde.

“As jy jouself ken, jou waarde ken en weet waarnatoe jy op pad is, kan niks verkeerd gaan nie,” het Engelbrecht gesê en bygevoeg dat dit in elke aspek van die lewe toegepas kan word, veral in sport.

Engelbrecht het die oorhandiging van sertifikate en trofees behartig. Alle genomineerdes het erkenning gekry deur sertifikate te ontvang en die wenners het met ’n trofee weggeloop.

Vredendaller van die jaar is toegeken aan Burre Burger vir sy bydrae tot die droogtekrisis. Burre het in Maart 2017 die droogtehulp-projek gestig wat voer en kospakkies na die droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika en Namibië versprei het.

“Dit is ’n baie groot eer om Vredendaller van die jaar te wees, maar die eer kom eintlik die Hemelse Vader toe,” het Burger na afloop van die aand gesê.

Gerrie Cilliers het die eerste toekenning van die aand ontvang. Hy is as sportadministrateur van die jaar aangewys en Petro Visser is vereer deur op die ererol geplaas te word.

As gevolg van sy bydrae tot sport is hulde aan wyle JP Rust gebring. Hy is as legende aangewys en die Lutzville-gholfklub het besluit om hul jaarlikse gholfdag die JP Rust-gholfdag te noem.

Chantel Booyse, opvoeder by Laerskool Vredendal is aangewys as afrigter van die jaar en Hentis Burger, rugby- en krieketafrigter van Laerskool Vredendal, is as skole sportpersoon van die jaar aangewys.

In die skole-afdeling is leerders van Laerskool Vredendal, Hoërskool Vredendal en Vredendal Senior Sekondêr genomineer. Laerskool Vredendal se skaakspan is as junior sportspan aangewys en Vredendal Senior Sekondêr se tafeltennisspan is aangewys as senior sportspan van die jaar.

Brain Lombard, leerder van Vredendal Senior Sekondêr, het die toekenning vir senior skole sportman ontvang en Aniska Van Wyk is aangewys as die senior skole sportvrou van die jaar.

In die afdeling junior skole sportman is PF Strauss en Sumari Van Niekerk as junior skole sportvrou, aangewys.

Kaptein Barries van Vredendal SAPD is aangewys as gemeenskapopbouer van die jaar. Kaptein het vanjaar saam met ander ondernemings, die jaarlikse krieketdag aangebied en ’n uitmuntende R60 000 ingesamel.

Reg Holder van die Olifantsrivier-stoeiklub het die toekenning vir senior sportman ontvang en die senior sportpersoon van die jaar is toegeken aan Marius Basson van die Olifantsrivier-atletiekklub.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?