Vredendal Senior Sekondêr word herstel

Oud-leerders van Vredendal Senior Sekondêr wou teruggee aan die skool waar hulle hul skoolloopbaan voltooi het, en is volstoom besig met herstelwerk aan die skoolperseel.

“Dit is die skool waar ons finale grondslag gelê is. Die skool het van ons besigheidsmanne, ingenieurs, onderwysers, advokate, dominees en vele meer gemaak, hoe kan ons toesien dat die skool verder agteruitgaan en so verniel word?” sê John Bock, voormalige burgermeester van Vredendal.

Volgens Bock is die skool in 1980 gebou en dit wil voorkom asof onderhoud van die skool net iewers nagelaat is.

“Die doel van die herstelwerk is om die skoolsaal weer bruikbaar te maak sodat funksies daarin gehou kan word, selfs die kombuis moet ook aandag kry,” verduidelik Bock en voeg by dat die skoolsaal vir die laaste paar jaar nie verhuur kon word nie en selfs matriekafskeidpartytjies moes verskuif word na die gemeenskapsaal, terwyl die skool ’n inkomste kon genereer deur die saal uit te huur.

Verlede jaar tydens die beplanning van die reünie vir die 1987-matrikulante is ’n besluit geneem om die saal reg te maak.

“Dit was redelik laat in die jaar, maar ons het onmiddellik die krane wat lek, toilette en deure reggemaak. Op daardie stadium was dit nog ’n klein groepie wat bestaan het uit myself, Dirkie Beukes, Annaline Owies en Maureen Wenn,” sê Bock.

Majorie Links en die skoolhoof, juf. Rose Ruiter, het volgens Bock ’n groot rol in die beplanning gespeel. Bock voeg ook by dat hulle ook ’n paar staatmakers het soos Willem Swarts, Kowie Adonis, Ernest Kondowie wat reeds materiaal soos plafonborde, verf ens geborg het.

Die groep het laat verlede jaar voor die eindeksamen vinnig van die toilette reggemaak en na afloop van die reünie is daar weer in Julie na die derde kwartaal aandag begin gee aan die herstelwerk. Volgens Bock is die plafonne wat vervalle was en reeds begin buig en uitgeval het, vervang. Verfwerk aan die plafonne het op Maandag, 7 Augustus begin.

“Die plafonne, toilette, wasbakke, storte, dreineerstelsel, kombuis, vloere en die verhoog moet dringende aandag kry. Ons het ook al met die tegniese dienste van die munisipaliteit geskakel om ’n pyp te help aanlê van die gesuiwerde rioolwater.

“Die pyp loop voor die skool verby en word tans gebruik om die gras van die sportgronde van Vredendal-Noord nat te maak. Die idee met die water is om die droë gras nat te maak, ’n gemeenskapstuin te maak en weer ’n sportsveld met gras oppervlak te hê waar die leerders kan oefen en moontlik weer rugby speel,” sê Bock.

Volgens Bock finansier hulle die projek tans uit hul eie sakke, maar beplan ’n debutante-bal en hoop om ten minste R100 000 in te samel. Hulle beplan om die funksie op 4 November te hou, en kaartjies is teen R150 per persoon te koop. Daar sal ’n lekker jazz-orkes wees en hulle sal ook twee motiveringsprekers hê.

Oud-leerlinge, ouers, onderwysers en selfs leerlinge van die skool kan betrokke word deur materiaal te verskaf, hetsy verf, of kwaste of ’n paar rand te skenk. Die finalisering hang volgens Bock af van die inkomste en hoe hulle geld gaan genereer, maar hulle het ’n mikpunt vir Desember 2018 gestel.

Hoe meer oudleerlinge en besighede betrokke word, hoe vinniger kan hulle die saal herstel. Die gemeenskap kan die volgende persone kontak indien hulle by die projek betrokke wil word:

John Bock – 0828062004

Dirkie Beukes – 0729149828

Annaline Owies – 0829788946

Maureen Wenn – 0783691056

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?