Vredendal-Noord Primêr hoofkrisis

Ongelukkige ouers van leerders by Vredendal-Noord Primêr het al vir die afgelope twee weke elke oggend voor die skool bymekaar gekom om te keer dat kinders die skool betree.

Die rede hiervoor is dat ouers ontsteld is oor die proses waarvolgens die nuwe skoolhoof, me. Maryna de Lange, aangestel is en dat mnr. Lincoln Wildschut, wat sy plek volgestaan het as waarnemende skoolhoof, nie vir die posisie oorweeg is nie.

Hennie Nell, woordvoerder van die ongelukkige ouers, sê die ouers het reeds ʼn memorandum aan die skoolhoof, me. De Lange en mnr. George Claassen, kringbestuurder van Kring 5, oorhandig waarin staan dat die aanstellingsproses aan die ouers verduidelik moet word. Hulle moet ook verduidelik waarom mnr.  Wildschut nie oorweeg is vir die pos nie.

In die memorandum staan die volgende:

Hiermee gee ons kennis dat ons volstaan by ons memorandum wat ons op Maandag, 24 Julie, oorhandig het, dat ons as ouers en die gemeenskap by die vergadering van Woensdag, 2 Augustus, die volgende resolusies geneem het:

  1. Ouers voel dat me. de Lange nie welkom by die skool is nie totdat die ondersoek afgehandel word.
  2. Daar moet ook ʼn onafhanklike ondersoek plaasvind.
  3. Ouers voel ook dat mnr. Claassen van die plaaslike WKOD ook ondersoek moet word.
  4. Daar sal ook ʼn derde party aangestel word om die skool tydelik te bestuur om verdere verdeling tussen die skoolpersoneel te voorkom.

“Die ouers voel dat hulle eerder hul kinders by die huis wil hou tot die ondersoek suksesvol opgelos is,” sê Nell.

Nell voeg ook by dat Alan Meyer, hoofdirekteur van die Wes-Kaapse Onderwys Departement, beloof het om teen Maandag, 7 Augustus, ʼn ondersoekspan te stuur om na die saak te kyk.

Vir meer inligting kontak Hennie Nell 076 620 9690 of stuur ʼn e-pos na hennienell0011@gmail.com

Foto verskaf aan Netwerk24.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?