Voorbereiding vir jou eerste dag van werk

Die eerste dag by ’n nuwe werk kan uitmergelend wees: jou verantwoordelikhede word aan jou gekommunikeer, dis ’n nuwe omgewing en die dinamika is dalk anders as dít waaraan jy gewoond is. En al het jy waarskynlik ’n onderhoud gehad en jou nuwe baas ontmoet, ontmoet jy nou jou kollegas, vir wie jy natuurlik ook wil beïndruk.

 

Vorige navorsing het getoon dat eerste indrukke binne sewe sekondes gevorm word, maar ’n onlangse studie verskil hiervan. Volgens sielkundiges van die Universiteit van Glasgow word daar binne ’n halwe sekonde nadat iemand se stem gehoor is, ’n oordeel oor die persoon se betroubaarheid gevel. Wat eerste indrukke selfs belangriker maak, is dat mense moeilik hulle eerste indrukke aanpas. ’n Kanadese navorser, Bertram Gawronski, het bevind dat eerste indrukke redelik blywend is en ander indrukke oorskadu, selfs nadat nuwe inligting oor die individu bekend is.

 

Aangesien die indruk wat jy op jou eerste werkdag maak waarskynlik blywend is, volg hierdie paar wenke om te verseker dat jy die beste indruk moontlik maak.

Kom vroeg en bly tot laat

Kom ’n bietjie vroeër, veral as jy pendel en onseker oor die verkeersdruk is. Sit in die parkeerarea as jy meer as 10 minute vroeg is. Bly ook ’n bietjie later as wat daar van jou verwag word.

Trek gepas aan

Hoe jy op jou eerste werkdag aantrek, is baie belangrik. Trek aan soos jy deur ander gesien en beleef wil word. Dra gepaste kleredrag en sorg dat jy deur ’n ring getrek kan word – dit kommunikeer betroubaarheid en laat jou professioneel lyk.

Berei ’n hysbakgesprek voor

Baie kollegas sal jou ’n paar vrae vra in ’n poging om jou te leer ken. Wees gereed om in 30 sekondes te verduidelik wie jy is, waar jy voorheen gewerk het en wat jou nuwe pos behels.

Luister en vra vrae

Luister en maak aantekeninge van wat van jou verwag word. Moenie skaam wees om vrae te vra nie – vrae wys dat jy nuuskierig is en gretig is om te leer.

Leer jou kollegas se name

Niemand verwag dat jy al jou kollegas se name na die eerste dag moet ken nie, maar probeer ten minste die name van jou span onthou.

Vermy politiek en skinder

Moenie betrokke raak by skinderstories nie, veral nie op jou eerste werkdag nie. Politiek in die werkplek is somtyds onvermydelik, maar probeer so lank moontlik onbetrokke bly.

Neem inisiatief

As ’n nuweling sal jy klein hoeveelhede werk kry. Wanneer jy ’n taak afgehandel het, neem die inisiatief om vir nog ’n taak te vra. Wees proaktief en wys dat jy gretig is om te leer.

Sê dankie

Sê aan die einde van jou eerste dag vir dié wat jou gehelp het dankie. Jy kan dit sommer per e-pos doen. Jou waardering sal definitief nie ongesiens verbygaan nie.

Bron: Solidariteit

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?