Veeplaas Dexter-stoet kry ’n tuiste

Daar is positiewe nuus vir Suid-Afrika se bykans 1 700 melkboere. Een van die land se voorste melkkopers het aangedui dat hy dalk te vinde sal wees vir ’n melkprysverhoging en die verwagting is ook dat die welkome reën ’n goeie graanoes tot gevolg kan hê, wat voerkoste mettertyd kan laat daal.

Dr Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), het tydens die MPO-Noordwes se kuilvoer- en hooidag op Lichtenburg gesê hoewel niks nog amptelik is nie, is daar aanduidings dat ’n groot melkkoper bereid is om te gesels oor ’n melkprysverhoging van 30 sent per liter.

“Die mielies op die lande lyk baie mooi ná die goeie reën, en ’n mens kan verwag dat ’n groter oes en gepaardgaande laer mielieprys mettertyd kan deurwerk en melkboere se voerkoste gunstig kan beïnvloed.

“Die melkbedryf is deur een van die ergste droogtes in baie jare en die totale melkproduksie was verlede jaar na raming 1,4% laer as die vorige jaar. Die nagenoeg 3 miljard liter melk wat in totaal beskikbaar is, word feitlik alles binnelands verbruik.

“Myns insiens lê ’n groot mark noord van die Limpopo braak waarheen langlewe-melk uitgevoer kan word, wat ’n goeie geleentheid vir uitbreiding vir die Suid-Afrikaanse melkbedryf bied. Volgens ’n internasionale opname het die gemiddelde verbruik van langlewe-melk in die gebied suid van die Sahara sedert 2013 met sowat 22% per jaar toegeneem. Die groeiende vraag word tans uit ander wêrelddele voorsien.

“Die verhouding tussen die prys van melk en voerkoste het die afgelope tyd nie uitbreiding in die melkbedryf aangemoedig nie. ’n Beter melkprys kan die situasie egter verander,” sê hy.

Rol van kuilvoer

Kuilvoerkenners het gemaan dat die nat seisoen naas al die voordele, ook groot uitdagings inhou, maar dat dit vandag bykans onmoontlik is om ’n melkery geslaagd sonder kuilvoer te bedryf.

Albert van Rensburg van Biomin het gesê mikotoksiene in kuilvoer hou ’n groot bedreiging vir die melkboer in omdat die gifstowwe wat hoofsaaklik deur swamme afgeskei word, voerinname en gevolglik melkproduksie met tot 2 liter per dag kan beperk en die groei van beeste in voerkrale in die wiele kan ry. “Dit kan ook ander probleme veroorsaak wat met siektes by beeste verwar kan word. Die nat seisoen kan mikotoksiene in kuilvoer ’n groot uitdaging maak.”

Wynn Dedwith, ’n melkboer en werktuigverskaffer, het vir die boere gesê dat ’n mens nie goeie kuilvoer van ’n swak gewas kan maak nie. “Die voedingswaarde van die grond speel ’n vername rol in die voedingswaarde van die kuilvoer. Terselfdertyd kan die beste reg-gekerfde kuilvoer opgemors word as dit nie reg gekuil, vasgetrap, bedek en uiteindelik ook op die regte manier uitgehaal en gevoer word nie.”

Hy het dit ook benadruk dat dit ’n moeilike jaar is om goeie hooi te maak. Dit kos egter dieselfde om swak of goeie hooi te maak. Die bestuur moet net opgeknap en die regte werktuie gebruik word.

Hooimaak is ’n kuns

Hennie du Toit van Noordwes-koöperasie het gesê hooimaak kombineer die wetenskap met die kuns om die voedingstowwe in gras in ’n opbergbare vorm te bewaar. “Dit kos geld om hooi te maak en dit is ’n tydsame proses. Daarom is dit raadsaam om dit die eerste keer reg te doen.

“Die gehalte van hooi word grootliks beïnvloed deur die gewas te sny wanneer dit in ’n vegetatiewe groeifase met baie blare en min saad is, en voordat die stingels hard en onverteerbaar raak. Goeie hooi sorg vir goeie diereprestasie.”

Kenneth Botha, ’n melkboer en voedingskundige, het gesê kuilvoer kan vir verskillende diere gebruik word. “Dit is ’n mite dat melkkoeie nie goed vaar op hoë vlakke kuilvoer in hul voerrantsoen nie, dat verse eers op ses maande kuilvoer behoort te kry en dat kuilvoer nie vir skape gebruik kan word nie. In sekere melkkuddes op die Hoëveld kry koeie tot 30kg en meer kuilvoer per dag in hul voerrantsoen, en in Amerika kry koeie tot 34kg kuilvoer per dag.”

Meer as 200 mense het die kuilvoer- en hooidag bygewoon. Die demonstrasie van kuilvoerkerwers moes afgestel word omdat die lande te nat was. – Andries Gouws, Veeplaas

Bron : http://agriorbit.com/veeplaas-dexter-stoet-kry-n-tuiste/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?