Skoon oudit vir Matzikama – drie jaar agtereenvolgens

Dit is vir die raad van Matzikama ’n groot voorreg om aan te kondig dat die Matzikama-munisipaliteit vir die derde agtereenvolgende jaar met ’n skoon oudit spog vir die 2016 en 2017 finansiële jaar.

Volgens Elizna Mouton, skakelbeampte by Matzikama-munisipaliteit, het die munisipale personeel vir die eerste keer in die geskiedenis self die state opgestel wat voldoen aan die standaarde van Generally Recognised Accounting Practice (GRAP).  Hierdie prestasie is slegs vir geringe munisipaliteite beskore en plaas Matzikama-munisipaliteit verseker onder die top munisipaliteite in die Weskaap.

“Die ouditeur-generaal het gedurende die week die wonderlike nuus oorgedra aan Gerald Seas, direkteur finansiële fienste. ʼn Munisipaliteit is ʼn regeringsinstelling en daarom word dit deur wetgewing gereguleer en word beleide geformuleer en geïmplimenteer vanuit die landswette. Wanneer ʼn raad voldoen aan die riglyne en voorskrifte van die wet, kan dit nie anders as om uit te loop op ’n skoon oudit nie,” sê Mouton.

‘n Skoon oudit beteken:

  1. Finansiële state is ’n redelike weergawe van finansiële posisie, prestasie en kontantvloei van die munisipaliteit.
  2. Die prestasiebestuur in orde is en in lyn met wetgewende standaarde.
  3. Die munisipaliteit aan al die toepaslike wette en regulasies voldoen.

Danie Lubbe, munisipale bestuurder van Matzikama, som die prestasie as volg op:

“As ’n mens kyk na die algemene status van munisipaliteite deur ons land, die agteruitgang van finansiële beheer, die enorme skuldlas wat munisipaliteite het met betrekking tot Eskom en Nasionale Waterwese en ’n totale gebrek aan finansiële dissipline, is dit waarlik ’n pluimpie in die hoed van Matzikama-munisipaliteit om weer eens ’n skoon oudit, die hoogste moontlike oudit-uitkomste-resultaat, te ontvang. Die munisipaliteit het ’n gesonde finansiële posisie en alle finansiële verpligtinge word binne 30 dae gedelg. Ook het die munisipaliteit slegs een lening op sy boeke, wat gedurende ’n vorige raad se termyn opgeneem is by die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, en waarvan die terugbetalings stiptelik nagekom word.”

Lubbe voeg ook by dat dit sekerlik een van die grootste Kersgeskenke is wat ons aan elke gemeenskapslid en belastingbetaler as aandeelhouer binne Matzikama-munisipaliteit kan gee om dankie te sê vir u volgehoue ondersteuning en dat ons daar is vir u.

“Ek gee ook erkenning aan ons God die Vader, elke raadslid, elke bestuurslid en elke amptenaar wat hierdie prestasie moontlik gemaak het,” sê Lubbe.

Rhenda Stephan, burgemeester, voel met reg trots op die amptenare van die munisipaliteit wat weer eens bewys het wat vermag kan word deur uitstekende spanwerk en positiewe gesindheid van alle betrokkenes. ’n Spesiale woord van dank aan Danie Lubbe en Gerald Seas vir hierdie uitsonderlike prestasie.

Die raad bedank een en almal wat bygedra het tot hierdie prestasie en vertrou dat die munisipaliteit hierop sal voortbou.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?