Nuus oor die Namaqua Daisy Challenge

Op Saterdag, 5 Augustus, maak fietsryers en atlete reg vir die sewende agtereenvolgende Namaqua Daisy Challenge wat by Die Keldery op Vredendal gaan plaasvind. Die byeenkoms is ’n plaaslike bergfiets-wedren en staproete wat bestaan uit kompeterende en nie-kompeterende roetes.

“Wat die geleentheid so besonders maak is dat dit eg Namakwalands is en dit sluit braaivleis, roosterkoek, plaaslike musikante en rieldansers in,” sê Reinier van Greunen, voorsitter van die Namaqua Daisy Challenge.

“Deelnemers kan ook uitsien na ʼn goedgemerkte veilige roete, plaaslike smullekker kos en vermaak en natuurlik ons eg plattelandse vriendelikheid en gasvryheid,” sê van Greunen.

Behalwe vir die twee pretroetes, sal daar kontantpryse vir die eerste drie plekke per kategorie wees. Daar sal ook gelukkige trekkings op die dag wees, met twee hooftrekkings waarvan die pryse onder meer ʼn splinternuwe paar draftekkies en ’n bergfiets sal wees.

Volgens Van Greunen is die reëlingskomitee van kardinale belang. Wedersydse respek, harde werk en toewyding is ook ʼn groot vereiste in organisering van so ’n wedren.

Volgens Van Greunen was en is die grootste struikelblok steeds om deelnemers buite die streek hier te kry, veral in ʼn oorvol fiets- en drafkalender.

“Die langtermynplanne vir die Namaqua Daisy Challenge is om dit te laat groei tot 100% van sy maksimum kapasiteit, want tans is ons op 80% daarvan. Ons beoog ook om dit ʼn jaarlikse geleentheid op die plaaslike en streekskalender te maak, wat aan plaaslike inwoners die geleentheid gee om ’n byeenkoms van hierdie aard en gehalte by te woon en wat geensins afsteek teen ander wedrenne nie,” verduidelik Van Greunen.

Vir meer inligting oor die Namaqua Daisy Challenge, die roetes en die reëls besoek hul webtuiste by www.daisychallenge.com.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?