Musiek vir die siel sluit die In Afrikaans konsertreeks môre-aand af

Die sesde en laaste vertoning van die In Afrikaans konsertreeks, Akoesties in Afrikaans, word môre-aand aangebied en diegene wat van die konserte bygewoon het, kan steeds nie uitgepraat raak oor die ongelooflike produksies wat op Hartenbos te sien was nie.

Sonder enige spesiale effekte – net met ongelooflike dinamika tussen die kunstenaars – het die In Afrikaans konsertreeks bewys dat die Afrikaanse musiekbedryf oor briljante kunstenaars beskik.

Die laaste produksie, wat weer eens ’n orkes insluit om Theuns Jordaan, Riana Nel, Elvis Blue en Jo Black te begelei, beloof om die vakansie op ’n hoogtepunt af te sluit wanneer hulle van hul grootste treffers akoesties gaan vertolk.

“Hierdie is ’n konsert wat jy nié gaan wil misloop nie,” het Riana Nel belowe.  

Bring jou kampstoel en kombers en kom kuier vir oulaas lekker saam met jou gunsteling Afrikaanse kunstenaars. Kosstalletjies en ’n kroegtent sal beskikbaar wees, sowel as ’n winkel wat items van die kunstenaars sal verkoop.

Die span van JOOX kuier nog op Hartenbos en bied met die komplimente van die In Afrikaans konsertreeks, gratis BBP-lidmaatskap aan alle musiekliefhebbers. Hulle sal jou ook wys hoe om die In Afrikaans-speellys, wat spesiaal deur JOOX vir dié konsertreeks saamgestel is, af te laai.

Die In Afrikaans-winkel met verskeie oulike items van die kunstenaars wat te koop is, sal vir oulaas weer oop wees om te besoek tydens dié laaste vertoning. Gaan maak beslis ’n draai!

As jou vakansie saam met 2017 geeïndig het en jy reeds by die huis is, bederf jou en jou gesin  met ’n laaste padrit en bespreek nou vir die konsert. Op pad soontoe, werk die juweel van ’n Karoo-dorp, Prince Albert, ook by jou reisplanne in. Geleë aan die voet van die Swartbergpas sal hierdie dorpie jou asem wegslaan met sy asemrowende natuurskoon. Gaan loer op  http://princealbert.org.za/ vir meer inligting of gaan laai die app, Prince Albert Great Karoo, af in die IOS-winkel of Google Playstore.

Kaartjies is beskikbaar by www.itickets.co.za of 086 1000 291.

          

 

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?