Bekendstelling van mondelingse geskiedenis inisiatief

Op Maandag, 21 Augustus, is die Matzikama-streek deur Anroux Marais, Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport besoek om haar inisiatief wat sy noem, “Wat is jou storie” bekend te stel. Die bekendstelling het by die Vredendal-Noord-gemeenskapsaal plaasgevind. Die doel van hierdie inisiatief is volgens Marais om die geskiedenis van die mens mondelings vas te lê.

Volgens Marais het sy altyd ’n ding gehad met stories van mense wat nie oorvertel word nie en daarom het die inisiatief onmiddellik begin nadat sy in haar pos as minister aangestel is.

“Die museums, argiewe en biblioteke is almal rolspelers in die proses om van hierdie inisiatief ’n sukses te maak, tans is die inisiatief besig om inligting en stories op te neem van mense se herkoms en dit op DVD’s vas te lê,” sê Marais.

Haar droom is dat mense eendag na biblioteke moet loop en hul eie stories en geskiedenis in boekvorm daar kry.

“Vandag is ons so gewoond om net op ons selfone te wees en die belangrikste is eintlik om ons stories met mekaar te deel. Om ’n storie te vertel is iets wat almal kan doen, maar dis belangrik om dit oor te vertel,” sê Marais.

Vader Joseph Ovis van die Rooms Katolieke Kerk op Vredendal sê dit is iets unieks en in sy leeftyd was daar nie so iets nie.

“Dit is regtig ’n belewenis om te weet ons herkoms gaan nie in die niet verdwyn nie, maar die volgende generasie sal kan luister na waar hulle vandaan kom,” sê Ovis.

Oud en jonk het hierdie geleentheid bygewoon asook die verskeie biblioteek personeellede van onder meer Doringbaai, Troe-Troe, Papendorp, Ebenhaeser, Vredendal, Eureka Vredendal, Vanrhynsdorp en Klawer. Marais het ook geskenkpakkies aan hulle oorhandig wat DVD-opnames van verskeie mense wat die geskiedenis van hierdie dorpe herroep, insluit.

Die amptelike uitrol van die projek is deur die knip van ’n lint gesimboliseer. Die lint is deur Minister Marais geknip met die ondersteuning van Rhenda Stephan, burgermeester van die Matzikama Munisipaliteit.

“Dit is ’n voorreg om iets soos vandag te ondervind,” sê Thandolwethu Ybo, ’n vlak 4-student van West Coast College op Vredendal.

Die geleentheid is afgesluit deur opvoerings van onderskeie groepe soos koorsang deur West Coast College, die rieldans-groep onderleiding van Elsabe Cloete en ook Louis en Egbert Brink met ’n boeremusiek vertoning.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?