Twee pogings tot roof in Vredendal

Vroeg vanoggend was twee besighede op Vredendal die teiken van misdaad. Op Donderdag, 17 Augustus was daar ’n poging tot roof by beide Neo-Design en Matzikama Begrafnis Dienste (MBD) se Finansiële Dienste kantoor in Kerkstraat.

Volgens Mariette Coetzee-Stemmet, eienaar van Neo-Design, het hulle bewus geword van die inbraak vanoggend om 07:00, toe hulle die winkel se deure oopmaak. Die gebreekte venster was volgens Coetzee-Stemmet ’n duidelike bewys dat alles nie pluis is nie. Volgens haar is dit die enigste venster wat nie diefwering het nie.

“Die dief of diewe was op die dak van die winkel en ook net in die onderste afdeling van die winkel,” sê Coetzee-Stemmet en voeg by dat die winkel se sekerheidskameras wel sal wys wie die verdagte is, hulle wag net vir die tegnikus wat daarmee werk.

Volgens Coetzee-Stemmet het die verdagtes met die elektriese skakelaars gepeuter en sy vermoed dit was seker om die ligte af te skakel, maar hulle kon nie daarin slaag nie.

“Die inbrekers kon ook met niks weggekom nie as gevolg van die paraatheid van die Sigbare Polisiëring van Vredendal,” sê sy.  Coetzee-Stemmet wil die gemeenskap aanraai om wakker te wees vir hierdie neiging wat nou sy kop in Vredendal uitsteek, maar sy is dankbaar vir die Sigbare Polisiëring vir die onbaatsugtige diens wat hulle gelewer het.

Oor die poging tot roof by MBD se finansiële kantoor skryf Louw van Zyl, eienaar van MBD, op Facebook: “Manne in blou: ek moet iets deel, vanoggend om 4:25 het ek ’n alarmsein by ons Kerkstraat-kantore gekry, die polisie is gekontak en met my aankoms was daar twee vangwaens op die perseel, ondersoek is binne en buite gedoen en gelukkig geen inbraak nie, maar wat ’n verligting dat Vredendal se manne in blou so vinnig reageer. Dankie Konstabel Mbosha en Cloete. Regtig ’n pluimpie vir julle. Great. Om 4:45 was ek al weer tuis!”

Die foto’s wys die toneel by Neo-Design; hul gebreekte venster, asook die baksteen en vullisdrom wat die verdagtes gehelp het om die winkel binne te gaan.

  

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?