Trusc Shoebox-projek bring nuwe hoop

As jy iets goed vir die gemeenskap en minder bevoorregte mense wil doen, maar nie seker is hoe nie, kan jy by die Trusc Shoebox-projek betrokke raak. Die Shoebox-projek is’n gemeenskap-projek wat deur Trusc op Vredendal gestig is.

Die projek gaan hoofsaaklik oor om minderbevoorregte kinders se harte in die feestyd te steel. Vrywilliges, pak basies ’n skoenboks met toepaslike geskenke en skenk dit aan die projek.

Maatskappye soos Trusc neem die projek aan as deel van hul korporatiewe sosiale belegging.
Trusc se tak op Vredendal is in beheer van die projek in die Matzikama-streek.

Hulle nooi almal in die streek hartlik uit om ’n goeie daad vir hierdie feestyd te doen deur slegs ’n skoenboks met dinge soos opvoedkundige boeke, inkleurboeke, legkaarte, seep, ’n waslap of tandepaste en -borsel te pak.

Michelle Breytenbach, projekbestuurder, doen ’n beroep aan die publiek om nie geskenkies te koop wat gevaar kan inhou nie. Sy vra dat almal wat bereid is om ’n skenking te maak, asseblief nie die skoenboks toedraai nie.

“Ons moet inspeksie doen oor wat in die bokse is; sodat dit nie uitgereik word met geskenke wat skadelik kan wees nie,” sê Breytenbach.

Belangstellendes kan hul skoenbokse by Trusc se kantoor aflewer. Hulle is gevestig in Akasia Straat nommer 3, op Vredendal. Diegene wat in groot maat wil skenk, kan Michelle Breytenbach kontak by 079 314 0790. Trusc is bereid om self vervoer te reël vir die optel van die bokse.

Kinderhuise, kerke en ander organisasie sal verantwoordelik wees vir die uitdeel van die geskenke. Die afsluitdatum van die projek is op 20 Desember.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?