Vier skouspelagtige toerisme-roetes rondom Clanwilliam

Indien jy die groter Cederberg-streek wil verken, kan Clanwilliam die ideale plek wees om
jouself te baseer. Clanwilliam is ’n klein dorpie in die Olifantsriviervallei in die Wes-Kaap en lê
ongeveer 200 kilometer noord van Kaapstad. Aangesien Clanwilliam omring is deur verskeie
toerisme-roetes, kan jy verseker wees dat avontuur jou sal vind.

Rooibos-roete

Die Cederberg-bergstreek is die enigste plek in die wêreld waar Rooibos natuurlik groei.
Clanwilliam staan ​​bekend as die Rooibos-hoofstad en is ’n uitstekende plek om hierdie unieke
en gesonde Suid-Afrikaanse produk eerstehands te ervaar.

Die Rooibosroete, wat op 14 Augustus 2014 geopen is, bied ’n wye verskeidenheid verskillende
Rooibos-ervarings – ’n unieke manier om meer te leer oor hierdie interessante plant. Van die
kweek daarvan en geskiedenis tot aktiwiteite en lekkernye, daar is iets vir jonk en oud om te
geniet. Jy kan ook jou eie reis beplan en dit alles op jou eie tyd geniet. Besoek hul webwerf om
jou Rooibos Roete te beplan – www.rooibos-route.co.za

Noordelike Cederberg

Die Noordelike Cederberg is gevul met versteekte juwele, wonderlike staptogte en selfs
rotsklimplekke vir avontuurlustiges. “As jy na die Noordelike Cederberge ry, is ’n besoek aan die
Khoisan-kombuis ’n moet. Besoekers sal hul uitstekende spyskaart behoorlik geniet, veral die
wildsvleis. Nog ’n versteekte juweel is die klein nedersetting van Heuningvlei,” vertel Rika
Potgieter, voorsitter van Clanwilliam Toerisme.

Vertrek van Clanwilliam op die R364 in die rigting van Calvinia en Wupperthal. Na ongeveer 18
kilometer sal jy ’n naambord sien wat C.Louis Leipoldt se graf aandui. Hier kan jy die graf van
die bekende digter, wat in Clanwilliam grootgeword het, besigtig. Onthou om uit te kyk vir die
rotskuns in die area.

Soos jy verder ry, sal jy die Cape Nature kampterrein, Kliphuis, aan jou regterkant sien. Hier kan
permitte verkry word vir die staproetes in die noordelike dele van die Cederberg. Permitte kan
ook verkry word vir Rocklands, die mekka vir rotsklim of ‘bouldering’. ’n Paar kilometer verder
langs die R364, bo-op Pakhuispas, is die vertrekpunt vir die Heuningvlei-eselroete met die
mooiste natuurskoon. Besprekings is noodsaaklik en kan gedoen word deur Heuningvlei
Toerisme. Bel hulle by 027 492 3070 vir meer inligting. Die bekende rotsklimplek, Rocklands,
wat vroeër genoem is, is op dieselfde roete.

Daarvandaan gaan jy sowat 8 kilometer verder ry totdat jy ’n bord sien wat Pakhuys Winery &
Olive Oil aandui. Jy kan ’n toer deur die kelder neem en ook wyn en olyfolie proe. Langs hulle is
De Pakhuys, ’n plaas wat oor die jare heeltemal verander is om rotsklimmers te akkommodeer.
Hulle het ’n verskeidenheid staproetes op die plaas, waaronder een wat jou tot by ’n wonderlike
waterval lei.

Ry verder vir 10 kilometer totdat jy ’n klomp landsvlae aan jou regterkant sien. Jy het nou
Traveller’s Rest Farm Stall & Restaurant bereik waar jy ’n permit (R40 per persoon) kan kry vir
die bekende Sevilla Rock Art Trail. Die roete is 2,5 kilometer lank (eenrigting) en daar is nege
rotskuns-terreine om te besoek. Na die stap kan jy by die lieflike plaasstalletjie ontspan en iets
lekker op hul spyskaart bestel. Maak seker dat jy ’n bietjie ruimte vir hul lekker tuisgemaakte
Amarula-koek los.

Ná nog 19 kilometer op die R364 in die rigting van Wupperthal, vind jy die Biedouwvallei, ’n plek
wat besoek moet word gedurende blomseisoen. Uiteindelik sal jy dan die Moraviese
sendingdorp, Wupperthal bereik. Hier kan jy die skoenfabriek, die Rooibos-teefabriek en die
Rooibos-seepfabriek, Red Cedar, besoek. Van Wupperthal kan jy dan terugkom na Clanwilliam
of jy kan die 4×4-roete via Eselsbank na die Suidelike Cederberg aanpak.

Suidelike Cederberg

Hou jy van stap, blomme en wynproe? Dan sal die Suidelike Cederberge vir jou absoluute
vreugde bring. “Besoekers sal die verskillende staproetes regtig waardeer en die rotskuns by
die Stadsaalgrotte is ’n besonderse aanskouing. ’n Besoek aan die wynkelder by Dwarsrivier is
’n moet,” voeg Rika by.

Vertrek van Clanwilliam op die Ou Kaapse pad in ’n suidelike rigting wat by die Inligtingskantoor
verbystuur. Ry ongeveer 8 kilometer en draai links by die Cederberg-bord. Gaan voort totdat jy
by Algeria kom. Wees op die uitkyk vir blomme gedurende die blomseisoen. Om in die berge te
wandel, benodig jy ’n permit wat jy van die Algeria-bosstasie kan bekom. Daar is ’n kort
staproete van ongeveer 3 ure wat lei na ’n paar pragtige watervalle.

Ry 30 kilometer verder suid na die Dwarsrivier-plaas waar jy die Cederberg Wynkelder sal vind.
Dit is die hoogste kelder bo seevlak in Suider-Afrika. Hulle het ook ’n sterrewag wat slegs op
Saterdae oop is, indien die weer dit toelaat. Besprekings is noodsaaklik. Kontak hulle by 027
482 2825 vir meer inligting of besoek hul webwerf by www.cederbergwine.com.

Daarvandaan kan jy op die wêreldbekende staproetes gaan om die Maltese Kruis (4 tot 5 uur),
Lot’s Wife en Window Rocks, sowel as die Wolfberg Cracks (4 uur) en Wolfberg Arch (8 uur) te
besoek. Jy kan ook Truitjieskraal en die Stadsaalgrotte besoek met sy olifant-
Boesmanskilderye, ’n paar kilometer vanaf Dwarsrivier. Permitte vir al die bogenoemde kan
verkry word by Algeria of by die Dwarsrivier-plaas. Van daar kan jy na Ceres gaan, of jy kan ’n
sirkelroete deur die Cederberge na Wupperthal volg as jy ’n 4×4-voertuig het.

Roete na Lambertsbaai

“Die roete van Clanwilliam na Lambertsbaai is vol teeplase waar uitstekende inligting oor
Rooibos gegee word en waar tee geproe kan word, soos Elandsberg-ekotoerisme,
Skimmelberg en ander. Besprekings is noodsaaklik. Daar is ook ’n paar historiese terreine wat
die moeite werd is om te besoek, soos die Heerenlogement-grot, een van Suid-Afrika se oudste
grotte,” verduidelik Rika.

Vertrek van Clanwilliam op die R364 na Lambertsbaai en ry vir 12 kilometer tot by die
Ysterfontein-gasteplaas. Hier kan jy op ’n Rooibos-toer (slegs groot groepe), wat die plantasie
en droogwerwe insluit, gaan. Daarna kan jy ’n lekker koppie Rooibostee of ystee geniet.
Besprekings is noodsaaklik en jy kan hulle skakel by 027 482 2512 of besoek
www.ysterfontein.co.za.

Ry vir 3 kilometer en draai regs by die Skurfkop afdraai. Ry dan vir 3,3 kilometer na die
Elandsberg-eko-reservaat. Van hier af kan jy vertrek op ’n Rooibos-toer wat rotskuns, pragtige
rotsformasies, die Rooibos-teeplantasie, kwekery en fabriek insluit. Na die toer kan jy ’n lekker
koppie Rooibostee geniet en die verskillende produkte in hul winkel bekyk. Tradisionele etes
word ook aangebied per bespreking. Kontak Chris of Annette by 027 482 2022 of besoek
www.elandsberg.co.za.

Ry terug na die R364 en draai regs om na Graafwater te gaan. Draai regs by Graafwater om in
die dorp in te gaan en ry reguit deur die dorp vir sowat 16 kilometer na die Heerenlogement, ’n
oorhangende krans wat as oornagplek vir die Setlaars gebruik was. Naby die Heerenlogement
is die Sink-fort wat gebruik was om die Boere soldate te keer.

Ry daarvandaan op ’n sirkelroete na Lambertsbaai of ry terug na die R364 en draai regs na
Lambertsbaai. Hier kan jy Bird Island besoek, die tuiste van ’n kolonie Kaapse ganse. Jy kan na
die eiland loop of per boot gaan. Vir tradisionele etes en seekos in opelug restaurante kan jy by
die Muisbosskerm (027 432 1017), wat op die strand geleë is, 5 kilometer suid van
Lambertsbaai of Bosduifklip (027 432 2735), geleë 12 kilometer voor Lambertsbaai op die
R364, aanklop.

Jy kan Clanwilliam Toerisme op Facebook (@clanwilliamtourism) en Instagram
(@clanwilliamtoerisme) volg om op hoogte te bly van die nuutste nuus.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?