UitSig-verblyf is net die plek vir jou

UitSig is geleë aan die Weskus in ’n klein dorpie genaamd Strandfontein, naby Lutzville. (Daar is ook ’n Strandfontein naby Kaapstad, maar hierdie Strandfontein is sowat 4 ure se ry noord van Kaapstad aan die Weskus).

 

UitSig is ’n selfsorgkothuis met genoeg plek vir 6 gaste. Daar is 3 slaapkamers – die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed en die ander 2 kamers het enkelbeddens. Die badkamer is toegerus met ’n stort, wasbak en toilet. Daar is ’n volledig toegeruste kombuis met ’n yskas, vrieskas en stoof. Die sitkamer het dubbeldeure na die stoep met ’n onderdakbraaiplek en ’n pragtige uitsig oor die see. Let asseblief daarop dat daar nie ’n TV by UitSig is nie.

 

Strandfontein het begin as ’n klein dorpie waar plaaslike mense kom uitkamp het. Soos die dorpie se gewildheid gegroei het, is meer permanente geboue opgerig en later het die reg op eiendom moontlik geword. Uitsig is oorspronklik gebou as ’n tydelike huis in 1978. Die eiendom is met verloop van tyd opgeknap en stene is bygevoeg, maar die binnekantste mure dateer nog uit 1978!

 

As jy op soek is na ’n besige dorp met flieks, winkelsentrums, verkeer en mense wat aan die stres is terwyl hulle ontspan, is Strandfontein definitief nie die plek vir jou nie! As jy egter op soek is na ’n plek waar jy makliker kan asemhaal, waar jou dagtaak met die woorde eet, drink en slaap opgesom word, waar jy kan kyk hoe die branders skuimend breek en waar jy langs die strand kan stap en voel asof jy soms die enigste persoon op die planeet is, oorweeg gerus ’n tydjie op Strandfontein. Maar wees gewaarsku: Die aantal mense wat ly aan Strandfonteinverslawing neem jaarliks toe!
Bron: Lekkeslaap.co.za, UitSig

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?