Prettige surings ’n voorskou vir Clanwilliam Veldblomskou

Die bewolkte gordyn van afwagting het gelig en nou is dit tyd vir die voorspel deur die onmiskenbare goudgeel suringblommetjies voor die dramatiese vertoning van die lente begin.

Die surings het geen toestemming nodig om oral te pronk in die winter nie. Oral waar jy ry, loop, sit of staan maak hulle seker dat jou oog hulle vang. Die algemene naam gee ’n beskrywing van hoe die eetbare plant smaak, maar die latynse naam is Oxalis pes-caprae. Die blom het vele name, waarvan die Houtsorrel en Oxalidaceae maar net twee is van vele.

Die suringplantjie word beskou as onkruid en groei oral in die natuur in die winter. Die hele plant kan gebruik word vir kos en tradisionele medisyne. Die plant bevat vitamien C en is al in die verlede gebruik om skeurbuik te behandel. As jy al vele produkte gebruik het vir aknee en niks werk nie, is die suringplantjie dalk die oplossing. Brandwonde en uitslag op die vel kan ook behandel word daarmee. Die verkoelende eienskappe is ook goed om ’n hoë koors te breek. Suringplantjies se diuretiese eienskappe word ook gebruik om urinêre probleme te behandel en die blaas te reinig. Die geel blommetjie word dan ook gebruik om kleurmiddels te maak.

As jy hou van eksperimenteer met kos, kan jy surings in jou bredies, sop, pesto, botter en slaai sous voeg, want dit maak ’n waardige plaasvervanger vir suurlemoen. Wees net versigtig om nie te veel daarvan te gebruik nie, want die suur kan oorweldegend wees. Probeer ook die volgende wenke om die beste te maak van ’n sogenaamde onkruidplant:

  • Voeg surings by jou tzatziki saam met knoffel, komkommer en Griekse yogurt.
  • Maak surings jou geheime bestanddeel in jou smaaklike waterblommetjiebredie.
  • Die blommetjies en blare kan ’n vervelige groenslaai prettig en kleurvol maak.
  • Maak jou eie botter, met suring, knoffel, botter en pietersielie.

Indien jy nie jou innerlike kind wil vrylaat in dig gegroeide suringvelde nie, kan jy wag vir die Clanwilliam Veldblomskou wat op 23 Augustus 2018 open. Vernuwing word gevier tydens die jaar se skou met ‘Ontwaak’ as tema. Die onder-voorsitter van die Clanwilliam Veldblomvereniging, Daleen Schoombee, verduidelik die motivering agter die tema is om vernuwing te vier na verlede jaar se droogte. Sy beskryf dié jaar se skou as ’n nuwe ontwerp en dat nuwe maniere gebruik gaan word om die landskap in die kerk uit te beeld.

Rondom Clanwilliam blom die sandkalossies, perdebosse, skilpadbessie en surings al baie mooi. Die kans dat 2018 ʼn goeie jaar kan weer vir veldblomme raak al groter, veral met die goeie reën wat onlangs geval het. Die skoubouers hou duime vas dat nog reën sal val sodat hulle vrye teuels kan gee aan hul kreatiwiteit om ’n lushof van blomme te skep in die Blomkerk. Bykans 350 plantspesies, almal uit die Clanwilliam-distrik, word tydens die veldblomskou ten toon gestel. ’n Mensgeskepte landskapuitstalling word deur vrywilligers van die dorp ontwerp en gebou. Die blomme-in-die-blikkie-stekers is ’n veldblomskou-gunsteling waar verskillende fyn veldblomme in blikkies met water ‘geplant’ word deur die dorp se vrywilligers.

Die Blomkerk se deure sal daagliks oop wees van 08:30 tot 18:00 van 23 Augustus tot 2 September. Toegang kos R50 per volwassene en R10 vir kinders. Besoek die Clanwilliam Veldblomskou se webwerf by www.clanwilliamwildflowershow.co.za vir meer besonderhede of bel die Clanwilliam Toerismekantoor by 027 482 2024 vir meer besonderhede oor verblyf.

Op die foto is die 4-jarige Jemma Gelandt van Ebenhaeser.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?