Middelpos Staproete nou amptelik oop

Op Saterdag, 2 Desember, het die amptelike opening van die Middelpos Erfenis Wandel/Heritage Walk wat saamval met ’n boekbekendstelling deur die skrywer, reisjoernalis en TV-aanbieder Erns Grundling, plaasgevind. Die staproete het uit ’n staptog oor 8 km bestaan.

Ná registrasie is die staproete met ’n heerlike ontbyt begin en die eienaar van Middelpos Hotel, Koos van der Westerhuizen het die verwelkoming gedoen.

Erns Grundling, bekende skrywer en joernalis van die tydskrif, WEG! het die staproete amptelik oop verklaar en ná ontbyt het stappers van heinde en verre die roete aangedurf.

“Daar was selfs twee kleuters wat deelgeneem het,” sê Frances de Kock.

By elke stoppunt het Grundling stukkies uit sy boek, Elders, voorgelees wat by elke bestemming gepas het. Volgens de Kock het almal wat aan die staproete deelgeneem het ook hul gedagtes, staaltjies en kennis van die omgewing se geskiedenis met mekaar gedeel.

Ná afloop van die stap het almal middagete by die Middelpos Hotel geniet. Grundling het sy laaste voorlesing en besprekings uit sy boek gedoen, boeke geteken en vrae beantwoord. Daar was ook ’n voorskou van die nuwe televisie-reeks, Camino in Spanje, wat eersdaags op die DStv-kanaal kykNET uitgesaai gaan word.

Die dag is afgesluit met ’n spitbraai en ’n heerlike kuier om die vuur.

Die Middelpos Staproete is nou oop vir toeriste en enigiemand wat Middelpos besoek kan ’n kaart koop en die roete op sy eie stap. Middelpos is ’n klein dorpie op die R354 tussen Calvinia en Sutherland, bekend vir sy hotel, bokboerdery, kaasfabriek, hondetelery en egte Karoo-gasvryheid. Dié staproete is ontwikkel deur Madeleine Bothma, wat ook onlangs die diensstasie op Middelpos gekoop en gerestoureer het. Die diensstasie is ingerig om te help met enige noodgevalle, waarvan die bandediens vir reisigers in die Karoo die spilpunt is. Mettertyd word daar ook beoog om herstelwerk by die diensstasie te bied en met verskeie projekte terug te ploeg in die plaaslike gemeenskap.

Die organiseerders wil graag hul dank teenoor die volgende borge uitspreek: Stellar Organics, Matzikama Begrafnisdienste, Namaqua Wyne, Clement Gold Gin en die WEG!- en Wegsleep-tydskrifte.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?