Geskiedenis oor Matzikama

Die Matzikama-streek is van die mooiste plekke in Suid-Afrika wat jy definitief moet besoek. Die streek loop oor van interessante mense en het ’n unieke herkoms en geskiedenis. Die Matzikama-streek bestaan uit verskillende dorpe, elk met hul eie unieke geskiedenis en persone wat daar groot geword het.  

Hier is meer inligting oor die verskillende dorpe in die Matzikama-streek.

Vredendal:

Die dorp Vredendal is een van die jongste en ook modernste dorpe in die Matzikama-streek. Vredendal is 322 km noord van Kaapstad en is langs die Olifantsrivier geleë.

Die dorp het sy ontstaan te danke aan die besproeiingskema wat hier gebou is. Dit is vroeg in 1945 as dorp gestig en het munisipale status eers op 1 Maart 1963 verkry. Ingevolge die huidige munisipale bedeling is Vredendal deel van die munisipaliteit Matzikama, waarvan dit die setel is.

Klawer:

Klawer is ʼn redelike klein dorp in die Noordweste van die Wes-Kaap aan die N7 nasionale pad, 24 km wes-suidwes van Vanrhynsdorp en 283 km van Kaapstad. Die naam is ontleen aan die wildeklawer wat in die omgewing groei.

Dit is een van die jonger dorpe in die Matzikama munisipaliteit. Die NG gemeente Klawer is op 14 Desember 1949 afgestig. Die hele gemeente van 560 lidmate was, met uitsondering van 10 huisgesinne, voorheen deel van die gemeente Vanrhynsdorp.

Klawer het op ʼn stadium sy eie munisipaliteit gehad. Die raad het in 1987 ʼn wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die wapen is: In goud, ʼn deurlopende ingeboë groen punt belaai met ‘n silwer treinwiel, in die skildhoof vergesel van twee groen klawerblare. Die helmteken bestaan uit twee druiwetrosse en twee klawerblare. Die wapenspreuk is Nil sine labore.

Vanrhynsdorp:

Vanrhynsdorp is ’n dorp in die Matzikama-munisipaliteit wat sowat 307 km noord van Kaapstad, 23 km oos van Vredendal en 80 km noord van Clanwilliam geleë is in wat algemeen as die Noordweste bekend staan. Die dorp is langs die N7 nasionale pad geleë.

Vanrhynsdorp is in 1887 uitgelê, nadat die NG gemeente reeds in 1877 van Clanwilliam afgestig is. Dit is genoem na Petrus Benjamin van Rhyn, die eerste parlementslid vir Namakwaland. Hy was die grootvader van ’n latere minister van ekonomie, dr. A.J.R. van Rhyn. Dit het munisipale status in 1913 verkry, maar is nou deel van die munisipaliteit Matzikama, waarvan Vredendal die hoofdorp is.

Lutzville:

Lutzville is ʼn klein maar groeiende dorp in die Matzikama-munisipaliteit in die noordweste van die Wes-Kaap. Dit is 22 km noordwes van Vredendal en 45 km wes van Vanrhynsdorp geleë.

Johann Lutz, seun van die bekende Japie Lutz, het in Augustus 1923 as verteenwoordiger van die Departement van Grondsake by Vlermuisklip aangekom met die opdrag om ’n dorp aan te lê en ’n besproeiingskema te begin. Die dorp is later na hom genoem.

Die dorp is aan die benedeloop van die Olifantsrivier geleë in ʼn landbougebied waar lusern en ander gewasse verbou word. Die naam van die dorp was eers Vlermuisklip, maar mettertyd gewysig om dieselfde as die plaaslike NG gemeente Lutzville te wees. Die naam van die spoorwegstasie, ook voorheen Vlermuisklip, is eers in 1950 na Lutzville verander.

Koekenaap:

Koekenaap is noordwes van Lutzville. Die dorp het ontstaan na aanleiding van ʼn besproeiingsskema wat hier begin is in 1928. Vandag bestaan die dorpie uit ʼn spoorweghalte, poskantoor en ’n paar winkels.

Strandfontein:

Strandfontein is ʼn vissersdorpie en vakansieoord aan die Atlantiese Oseaan in die Wes-Kaap. Die dorpie is suid van Doringbaai en is die noordelikste dorp van die tradisionele Weskus. Die Sishen-Saldanha-spoorlyn draai hier ooswaarts, die binneland in deur die Sandveld.

Ebenhaeser:

Ebenhaeser of Ebenhaezer is ʼn sendingstasie langs die Olifantsrivier, 10 km stroom-af van Koekenaap, in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. Die naam is van Bybelse oorsprong na aanleiding van 1 Sam. 7:12 (Statebybel): “Samuël nu nam een steen, en stelde dien tussen Mizpa en tussen Sen, en hij noemde diens naam Eben-haezer; en hij zeide: Tot hiertoe heeft de HEERE ons geholpen.” In daardie dae was die rivier bevaarbaar vir 50 km tot by die sendingstasie. Die besproeiingskanaal van die Olifantsrivier eindig ook hier. Baie inwoners van die nedersetting voer ʼn bestaan uit landbou.

Doringbaai:

Doringbaai is ʼn dorpie wat val onder die Matzikama-munisipaliteit, wat weer onder die Weskus-distriksmunisipaliteit val. Die kortstondige Louis Rood Plaaslike Raad, wat Doringbaai en Strandfontein ʼn paar jaar lank bestuur het, het in 1991 ʼn wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die raad se opvolger, die Doringbaai/Strandfontein Plaaslike Raad, het die wapen in 1996 op sy naam herregistreer.

Die wapen was: Deurlopend ingeboë kepersgewys verdeel, groen en goud, in die skildhoof twee goue veldblomme en in die skildvoet ʼn halwe uitkomende rooi kreef. Die helmteken was ʼn Vaalstrandkiewiet en die wapenspreuk was Mare didat.

Besoek een van hierdie dorpe om meer te leer oor die geskiedenis.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?