Expedition Africa-inskrywings nou oop

Daar heers groot opgewondenheid in die Namakwaland en in die avontuurliefhebberkringe omdat die inskrywings vir Expedition Africa 2018, amptelik op Dinsdag, 15 Augustus open. Die internasionale avontuurwedloop gaan aanstaande jaar van 18 tot 27 Mei in die Namakwa Weskus-streek aangebied word. Een van die hoofredes waarom die avontuurwedloop in die area aangebied word, is om die streek se toerisme ’n hupstoot te gee.

Die avontuurwedloop is deel van die Adventure Racing World Series en is ’n wedloop wat bestaan uit verskeie sportsoorte wat baie uithouvermoë verg soos bergfiets, roei en bergklim insluit. Die spanne wat aan die wedloop deelneem moet gure omstandighede wat die natuur na hulle kant toe gooi, kan hanteer en oorleef.

“Die Namakwa Weskus is presies waarna ons in ’n gasheer gesoek het. Dit is ’n ware onontdekte juweel en ons weet dit sal die deelnemers se asems wegslaan,” het Heidi Muller, een van die organiseerders tydens die bekendstellingsfunksie gesê.

Die wedloop sal oor ’n gemiddelde afstand van 550 km strek en volgens Kinetic Events,  organiseerders van Expedition Africa, neem dit die wenspan gemiddeld 72 uur (slaaptyd nie ingereken) om die resies te voltooi en die laaste span ongeveer ses dae. Al die spanne moet egter klaar wees voor die Saterdagaand se afsluitingseremonie.

Die spanne kan self besluit of hulle net deur die dag of dag en nag wil aanhou om hul eindbestemming te bereik. Daar word nie aan die spanne ’n vaste roete gegee nie en hulle moet self besluit hoe hulle die vinnigste by die eindpunt gaan aankom, om so ook die kompetisie te wen. Die lede van die span moet ook saamwerk en binne sien- en hoor-afstand van mekaar wees en mekaar help en dus as ’n span saamwerk om hul doel te bereik.

Volgens Kinetic Events is daar plek vir 50 spanne in die 2018 kompetisie. Die sluitingsdatum vir inskrywings en betalings is 19 Maart 2018 en kan aanlyn gedoen word op Kinetic Events se webtuiste.

Spanne van regoor die wêreld skryf vir hierdie soort resies in en dit bied ’n uitstekende geleentheid vir die Namakwa Weskus-streek om hul unieke kultuur, omgewing en natuurskoon ten toon te stel. Die hoof-byeenkomplek en registrasiehub vir die wedloop is by Letsatsi Lodge op Vanrhynsdorp.

Die inskrywingsfooi van R40 000 vir ’n span van vier geld van nou tot 15 Oktober 2017, en van 15 Oktober tot 19 Maart 2018 is dit R44 000 vir ’n span van vier. Vir meer inligting besoek Kinetic Events se webtuiste deur op die skakel te klik:  http://kinetic-events.co.za/Events/Expedition-Africa

Kyk hierdie video van die bekendstellingsgeleentheid: https://youtu.be/2nUhaCzLw2s

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?