Doendinge tydens die vakansie

Dit is vakansie en daar heers ’n groot opgewondenheid onder elkeen van ons. Almal het planne om iewers te gaan kuier en weg te breek van die stad se gejaagde lewe en is op soek na stilte en plekke om te ontspan. As jy dalk beplan om die Weskus, Cederberg of Matzikama-streek te besoek, moet jy beslis by die volgende plekke ’n draai gaan maak:

Lambertsbaai:

Lambertsbaai is een van die mooiste dorpies aan die Weskus. Dié mooi vissersdorpie is ongeveer 260 km van Kaapstad 117 km van Vredendal.

Citrusdal:

Citrusdal, wat in die Olifanstriviervallei geleë is, is bekend vir die lekkerste sitrusvrugte. Heelwat aktiwiteite word op en rondom die dorp aangebied. Jy kan uitkyk vir die volgende:

Sandveldhuisie – maak die lekkerste moerkoffie en hier kan jy ook interessante brei- en lapwerk kry.

4×4-roetes – verskillende 4×4-roetes soos die Koningskop 4×4-roete, Marcuskraal 4×4-roete en die Rondegat-roete wat hier aangebied word en wat perfek is vir alle avontuurlustige persone.

The Baths – die perfekte vakansieoord as jy wil wegbreek en ’n blaaskans nodig het.

Die Kardoesie is teen die N7 net aan die bokant van Piekenierskloofpas. Hier is ʼn restaurant wat die heerlike geregte bedien en ook ʼn padstal waar jy die mooiste items kan koop.
Maak seker jy besoek Citrusdal en omliggende areas. Kontak Cederberg toerisme kantoor by 027 482 2024 vir meer inligting.

Clanwilliam:

Clanwilliam is ʼn mooi dorp in die Olifantsriviervallei met baie interessante besienswaardighede en ’n ryk geskiedenis. Die dorp is die sewende oudste dorp in Suid-Afrika en spog ook met talle historiese monumente. As jy Clanwilliam besoek, maak seker jy maak ʼn draai by die volgende plekke:

Veldskoendraai-padstal en -restaurant: Die plek is bekend vir die varsgebakte brood en hul tuisgemaakte produkte, so maak seker jy maak ʼn draai.

Rooibos-fabriek – As jy ʼn rooibos-liefhebber is moet jy ʼn draai maak by die fabriek, want hier sal jy egte rooibos-produkte vind en jy kan ook van dié heerlike gesonde tee proe.

Ou Tronk museum – Hier kan jy meer uitvind oor die dorp se geskiedenis. Hier is ook uitstallings wat deel uitmaak van die museum.

Hier is nog vele plekke op Clanwilliam wat jy kan besoek. Vir meer inligting oor verblyf en aktiwiteite, kontak die Clanwilliam-toerisme kantoor by 027 482 2024.

Matzikama-streek

Die Matzikama-streek is beslis een van die plekke wat jy moet besoek tydens die feesseisoen. Die volgende aktiwiteite kan oor naweke gedoen word:

  • Bergfietsroetes
  • Wateraktiwiteite
  • Blomtoer-roetes (in seisoen)
  • Matzikama-staproetes
  • Voëlkyk-aktiwiteite
  • Sterrekyk-aktiwiteite

Kontak Namakqa Weskus Toerismekantoor by 027 201 3376 vir meer inligting.

Wynproe:
As jy buite sit terwyl jy wyn drink, tel dit ook as ’n buitelug-aktiwiteit. Daar is heelwat wynplase en kelderye wat jy die naweek kan besoek.

Maak ’n draai by Teubes Familiewyne vir ’n wynproe en ’n heerlike middagete of besoek Die Keldery vir ’n gratis wynproe. Hulle bied ook pret vir die jongspan met hul speelpark en alkoholvrye proe-opsies. Klawer Wynkelder, geleë op die N7 bied ook ’n komplimentêre wynproe op Saterdag tot 13:00. Daar kan jy ook lekker op hul grasperke ontspan en ’n bottel wyn geniet.

Besoek ook die Maskam Brewing Company, waar jy na lekker musiek kan luister terwyl jy op MBC se stoep sit en die prentjiemooi-uitsig oor die Olifantsriviervallei en Maskamberg kan bewonder. Daar is ook nog wynplase in die omgewing waar jy gerus ’n draai kan maak. Vir meer inligting, kontak Teubes Familiewyne by 027 213 2377, Die Keldery by 027 213 3699, Klawer Wynkelder by 027 216 1530 en MBC by 082 888 0119.

Jy hoef nie hierdie feesseisoen by die huis te sit en niks te doen nie. Probeer hierdie aktiwiteite en ervaar die Matzikama-streek op sy beste.

 

   

   

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?