Suidooster-sterre besoek Matzikama

Die afgelope naweek het akteurs van die gewilde televisiereeks, Suidooster, Matzikama besoek.

Irshaad Ally is bekend vir sy rol in die Suid-Afrikaanse fliek, Four Corners. Gantane Kusch, beter bekend as Giemba, is te sien in die Suid-Afrikaanse fliek, Noem my Skollie. In Suidooster vertolk Irshaad Ally die rol van Rhafiek en Gantane Kusch die rol van dr. Siya. Suidooster word Maandae tot Donderdae om 18:00 op DStv-kanaal, kykNet uitgesaai.

Vrydagaand, 10 November, het dié twee sterre in Club Fountain op Lutzville gasheer gespeel. Hulle het klubgangers vermaak met stories, grappies en het ook ’n tydjie afgeknyp vir ontmoeting en foto’s.

Musiek was verskaf deur Vredendal se eie Dj Krayzie en klubgangers het hul gate uit geniet. Ethan Petersen, wat die geleentheid bygewoon het, sê dit was ’n onvergeetlike aand.

“Die musiek was baie lekker en die kersie op die koek was om dr. Siya en Rhafiek te ontmoet,” vertel Petersen.

Ally en Kusch het Saterdagoggend bietjie in die Maskam Mall rondgeloop om diegene wat nie Vrydagaand kon bywoon nie, die kans te gee om foto’s saam met hulle te neem.

Op Saterdag, 18 November, is dr. Siya saam met Dean Smith op Vredendal-Noord by die gemeenskapsaal te sien. Dean Smith is bekend vir rol as Wade in Suidooster. Verrigtinge begin om 15:00 en die gemeenskap word genooi om die dag saam met die sterre te kom geniet. Daar sal ook braaigeriewe, springkastele vir die kinders en musiekvermaak deur verskillende DJ’s beskikbaar wees.

Gantane Kusch oftewel dr. Siya het aan My Matzikama vertel dat die mense hier baie vriendelik is. Hy sê: “Ek sien uit om die naweek weer die ongelooflike mooi dorp en hul mense te sien!”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?