Stephantasties stel treffer-enkelsnit en musiekvideo bekend!

Die opgewekte, voetstamplekker-wysie en betekenisvolle lirieke van Stephantasties se eerste solo-vrystelling, Dis Verkeerd, is die perfekte pasmaats vir dié veelsydige kunstenaar se stem. Die snit gaan binnekort die land se radiogolwe oorneem, net soos wat hierdie vermaaklikheidster, die afgelope paar jaar die musiek- en vermaakbedryf kom verower het.

Dis Verkeerd is Stephantasties se eerste enkelsnit as solo-kunstenaar. Hy het die treffer self geskryf en vervaardig en beskryf dit as ’n lekker Afrikaanse popliedjie, wat beslis ’n gunsteling gaan wees op die dansvloer. “Dit gaan oor daai gevoel wat jy vir iemand het, wat so sterk is dat dit amper verkeerd voel. Wanneer jy sommer weer verlief raak elke keer wat jy die persoon sien,” verduidelik die sanger. “Dit is my eerste poging as solo-kunstenaar en ek wou met iets treffend begin, so ek hoop hierdie liedjie sal dit kan doen.”

Die musiekvideo van die enkelsnit is ook pas vrygestel en hoewel die aanslag baie simplisties is, komplementeer dit die liedjie goed omdat dit steeds ’n gevoel van opwinding skep. “Ons het ’n baie eenvoudige en minimalistiese konsep vir die video gebruik. Deur letterlik net met ’n paar ligte en eenvoudige effekte te speel, wou ons ’n gevoel skep rondom die liedjie en, sonder te veel tierlantyntjies, my aan die publiek bekend stel,” sê Stephantasties oor die video wat byFoghound Studios opgeneem is en deur Hencas van Huyssteen van Fuisteen Films en Ruan Kotze van The Reel Thing vervaardig is.

Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=T0_-WVXC2_w

Hierdie talentvolle Pretorianer is al van kleins af lief vir musiek. Sy ma, Alta van Huyssteen, is ’n operasanger en hy en sy broer is deurgangs blootgestel aan ’n wye verskeidenheid musiek, van Queen tot Roy Orbison. Op laerskool, het hy die hoofrolle in verskeie musiekblyspele vertolk en ook talle kompetisies gewen. In die hoërskool het hy weer dromme gespeel in ’n Metal-groep wat hy en sy boetie begin het. Na skool het hy vir ’n jaar musiek studeer, waarna hy die geleentheid gekry het om vir ses maande saam met ’n klassieke groep in Spanje op te tree. Met sy terugkeer na Suid-Afrika, sluit hy aan by die groep, BRAVO!, wat twee albums uitgereik het. Gedurende hierdie tyd, het hy weer ’n musiekkursus gedoen deur COPA asook ’n kwalifikasie in klanktegnologie deur die SAE Institute. Die groot deurbraak in sy loopbaan, het egter eers gekom in 2010 nadat hy as kroegman en instaan-klankingenieur by Barnyard begin werk het. Dit het gelei tot rolle in vertoning soos Big Top Rock, 7 Wonders, The Rocky Horror Picture Show, Kidz Rock en We Will Rock You in die Seychelles, wat hom die geleentheid gegee het om sy stem, dansvernuf en toneelspel ten toon te stel. In 2012 word hy deel van die Afrikaanse mansgroep, NRG, as sanger, drom- en kitaarspeler. Die groep het baie gou naam gemaak en reeds die verhoog gedeel met van die grootste kunstenaars in die land, waaronder Heinz Winckler, Kurt Darren, Nicholis Louw, Ray Dylan, Romanz en vele meer. NRG is ook in 2013 genooi om die inhuisorkes te wees vir die Huisgenoot Treffer-na-Treffer-vertoning by die KKNK.

Sing is egter nie Stephantasties se enigste talent nie. Buiten vir die feit dat hy ’n knap klankingenieur is, is hy ook ’n kranige liedjieskrywer en vervaardiger wat verantwoordelik was vir verskeie van die liedjies op NRG se nuutste album, Roulette. Hy vervaardig ook deesdae musiek vir ander kunstenaars. Wanneer hy nie met klank doenig is nie, is hy ook akteur, seremoniemeester en televisieaanbieder (chatNOU op kykNET). Big Top Rock and 7 Wonders Hy is ook gedurende November en Desember betrokke by die musiekblyspel, Rock of Ages, by die Lyric Theatre by Gold Reef City.

Volgens die kunstenaar, is daar geen ander beroep wat hy eerder sou wou volg nie… behalwe natuurlik as hulle vir hom ’n rol in Star Wars aanbied, want hy is ’n groot aanhanger van dié lokettreffer. “Alledaagse gebeure en ander musiek van kunstenaars wat ek bewonder lei gewoonlik tot inspirasie na iets wat ek skryf en soms kom dit heeltemal anders uit as wat ek beplan het. Ek bewonder ook onafhanklike kunstenaars, wat hard werk en die ure insit om dit te maak werk, maak nie saak wat nie,” gesels die musikant wat Bruno Mars, Ed Sheeran, DJ Zedd en Nic Jonas as van sy huidige gunstelinge lys.

Die musiekbedryf het hom geleer om homself nie met ander kunstenaars te vergelyk nie en dat sukses op die regte tyd sal kom. Daarom fokus hy op die geleenthede wat hy kry en die planne wat hy vir die toekoms het, wat ’n solo-album en ’n liedjie saam met MWAH! insluit. Hoewel hy nog nie te veel oor sy debuutalbum wil verklap, wat vir 2018 beplan word nie, sê hy dat dit ’n verskeidenheidsalbum gaan wees wat organiese en elektroniese klanke sal laat saamsmelt.

Stephantasties wil graag grense in die Afrikaanse musiekberyf verskuif deur ’n nuwe en unieke klank te skep. “Ek dink nie daar is op hierdie stadium iets soos DIS VERKEERD in die mark nie en ek wil graag iets anders doen, wat die publiek nog steeds kan geniet,” sê hy. Sy nuutste treffer versinnebeeld nie net hierdie doelwit nie, maar is ook ’n goeie aanduiding van wat luisteraars in die toekoms van hom kan verwag.

Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/Stephantasties/
Twitter: @Stephantasties
Instagram: @stephantasties
Webblad: www.stephantasties.com
SoundCloud: https://soundcloud.com/stephan-van-huyssteen

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?