Staatsmanskap benodig in die Staatsrede

“Die noodseine vanaf die ekonomie en burgers van die land kan nie langer geïgnoreer word nie” sê Johannes Möller, President van Agri SA. Baie mense beskou ons land as rigtingloos, ’n siening wat geregverdig word deur die realiteit van ons land wat beweeg tussen rommelstatus-kredietgradering en ’n desperate poging om beleggings te bekom, het hy gesê. Ongedefinieerde uitlatings soos “radikale transformasie” met sy destruktiewe ondertone ondersteun ook ongetwyfeld nie die noodsaak vir ’n beter ekonomiese groeikoers en werkskepping nie. As ons as Suid-Afrikaners ’n vergelyking wil tref met die visie van President Donald Trump van die VSA “making South Africa great again”, moet dit ten minste as ’n vertrekpunt oorweeg word deur President Zuma in die komende Staatsrede.

“Dit is duidelik dat Suid-Afrikaners nie meer bereid is om uitgebuit te word as lammers ter slagting vir die sogenaamde publieke voordeel soos deur politici gedefinieer nie – laasgenoemde is meer dikwels verantwoordelik vir die agteruitgang in die land as gevolg van swak kuratorskap oor nasionale bates, swak bestuur van staatsondernemings, fiskale onkunde en vlakke van korrupsie wat epidemiese proporsies aanneem, sê Möller. “Agri SA, as ’n a-politiese organisasie wat ’n belangrike segment van die nasionale en plaaslike ekonomie verteenwoordig, het duidelik ’n direkte belang in die ekonomiese welstand van die land en is ook ongetwyfeld bewus van politieke en grondwetlike imperatiewe, veral in verband met transformasie wat nagekom moet word. Dit is gedemonstreer deur verskeie voorleggings, voorstelle en verbintenisse wat, na ons mening, die ekonomie baie goed kon dien. Die regering het tot dusvêr niksseggende antwoorde gegee en het in werklikheid eerder duidelik onpraktiese opsies soos grondplafonne genoem. Die idee van onteiening het blykbaar die afgelope tyd veld gewen in politieke kringe. Gegewe fiskale druk is dit nie duidelik watter fondse beskikbaar kan raak in hierdie verband nie, aangesien onteiening vergoeding impliseer; behalwe as een of ander tipe radikale ingryping beoog word”.

Möller sê hy was ontnugter deur regering se louwarm benadering met die onlangse droogte. “Na my mening het ons as organisasie uiterste selfbeheersing aan die dag gelê in ons versoeke aan die regering vir steun aan boere om een van die ergste droogtes in die geskiedenis die hoof te bied, maar sonder veel sukses. Duidelik kon huidige en toekomstige voedelsekerheidsoorwegings hulle nie tot beter insigte bring nie.

“Agri SA, saam met ander besigheidsvennote in Business Unity South Africa (BUSA), wil beleidsekerheid hê oor ’n aantal transversale aangeleenthede, waarvan sommige soos bogenoemde, van meer direkte belang vir die landbousektor is. President Zuma het in vorige SONA’s verwys na die Nasionale Ontwikkelingsplan. Enige aanduiding van of dit nog in die toekoms die ekonomie sal lei, sal baie help. Die rol van die tesourie was baie belangrik om rommelstatus te vermy en fiskale dissipline te behou. Ons verwag van die President om dit te respekteer en ’n meer visioenêre benadering te verskaf oor hoe die vele ekonomiese en sosiale probleme in praktiese terme hanteer gaan word.”

“Ek glo dat President Zuma, soos alle leiers, ’n gerespekteerde nalatenskap wil nalaat, vorige interaksies met hom maak my seker daarvan. Ek vertrou dat ware staatsmanskap deur die SONA weerspieël sal word in die beste belang van Suid-Afrika.”

Bron: Agri SA (http://www.agrisa.co.za/statesmanship-needed-state-nation-address/?lang=za)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?