Laerskool Vredendal se skolesport-nuus

Die 2017 skooljaar het ook tot ’n einde gekom en dit is tyd vir al die leerders om te rus. Laerskool Vredendal is baie trots op al hul sportleerders se prestasies deur die jaar. Hiermee ’n paar hoogtepunte en uitslae:

LAERSKOOL VREDENDAL KRIEKET

Laerskool Vredendal se krieketspanne het volgens Nico de Kock, ’n moeilike kwartaal beleef, maar ten spyte van die uitslae is daar beslis vordering gemaak en het die leerders dit baie geniet.  Die o.9-minikrieket het op Lutzville aan ’n mini-krieketdag deelgeneem waar hulle vyf van hul agt wedstryde gewen het.  Die o.11-krieketspan het aan die einde van die seisoen goed gevaar en het hul laaste twee wedstryde gewen. Die o.13’s kon egter nie daarin slaag om ’n wedstryd te wen nie. Merwe Genis-krieketskool het volgens de Kock van 24 tot 25 November ’n krieketkliniek kom aanbied wat deur verskeie leerders bygewoon is.  

“Ons hoop om vroeg in volgende jaar te begin met die krieket en 2018 ’n jaar te maak wat ons kan onthou vir sy suksesse op die krieketveld!” sê de Kock.

BO-WESKUS SKOLE ONTWIKKELINGSTOERNOOI 2017

Op 21 Oktober 2017 het verskeie skole in Bo-Weskus opgetrek na Lutzville om aan die Bo-Weskus Skole Ontwikkelings-skaaktoernooi deel te neem.  olgens Juffrou Chantel Booyse, het leerders van Laerskool Vredendal in die volgende afdelings deelgeneem:  

  • Laerskool Afdeling A – dogters en seuns apart – (vir ontwikkelde spelers) Weskus en Bo-Weskus spelers van 2017 gebore in 2005 en vroeër.
  • Laerskool Afdeling B – dogters en seuns apart – (vir ontwikkelende spelers) beginner-spelers gebore in 2005 en vroeër.

Nie minder nie as 100 leerders van regoor Bo-Weskus het volgens Booyse in die vier afdelings deelgeneem. Laerskool Vredendal het 14 leerders ingeskryf. Die volgende leerders van Laerskool Vredendal het volgens Booyse medaljes en trofees ontvang.

  • o.9-dogters-afdeling A kampioen – Mea van Zyl, trofee
  • Laerskool-dogters Afdeling  A – Mea van Zyl, 2de goue medalje
  • Laerskool-seuns Afdeling A – Vincent Cloete, 7de silwer medalje
  • Laerskool-seuns Afdeling B –  Somila Landu, 3de goue medalje; Nariko Coetzer, 4de silwer medalje; AJ Botha, 5de silwer medalje  

Juffrou Booyse het die skoolbus na Lutzville bestuur en ook as beampte tydens die toernooi opgetree.

“Baie dankie aan elke deelnemer wat die dag in ’n positiewe gees aangepak het en goeie dissipline gehandhaaf het. Harde werk het beslis vrugte afgewerp,” het Booyse gesê.

TENNIS IS VOLSTOOM AAN DIE GANG GEDURENDE DIE KWARTAAL

Volgens Eli Maritz van Laerskool Vredendal kan hulle vanjaar weer eens tien seuns en tien dogters in tenniswedstryde laat speel. Daar was volgens Maritz vanjaar geen Matzikama-tennisproewe nie, maar drie Weskus-tennisproewe. Nege spelers is vir die Weskus-tennisspan gekies.

Die jaarlikse tennistoer het op 27 en 28 Oktober plaasgevind waar hulle teen Piketberg en Malmesbury gespeel het.  Wilmien Vos, Liza Human en PF Strauss het Boland verteenwoordig. Vos het op Potchefstroom aan die TSA se toernooi deelgeneem en sy is nou 12de op die o.12 ranglys.

Karla Strauss, Liza Human, Janca Human en PF Strauss is vir die Boland Platteland-tennisspan gekies.

LAERSKOOL VREDENDAL ATLETIEK

Van Saterdag 1 tot 2 Desember het Boland-Atletiek ’n beampte- en afrigterskursus by Laerskool Vredendal aangebied. Op die Vrydag was die beampte-kursus en Saterdag die afrigters-kursus. Volgens Hentis Burger was daar ongeveer 50 beamptes en 70 kinders wat die kursus bygewoon het. Almal het tydens dié twee dae baie geleer.

Op Saterdag, 21 Oktober het Laerskool Vredendal se top 20 atlete aan ’n byeenkoms op Malmesbury gaan deelneem.

“Ons atlete het baie goed gevaar. Tussen die 20 atlete het ons 20 medaljes ingepalm. Baie geluk aan die atlete,” het Burger gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?