Naweek se klubrugby-uitslae

Op Saterdag 11 Augustus is daar ’n hele paar lekker ligawedstryde in die Matzikama-streek gespeel wat gesorg het vir groot opwinding en naelbyt-oomblikke langs die rugbyveld.

Die manne van Excelsiors RVK het na Doringbaai gereis waar hulle kragte gemeet het teen verlede jaar se liga-kampioene, Young Spurs. Die manne in swart en wit van Invincibles RVK (Swartes), rugbyspan van Vredendal, het kragte gemeet teen die Lemoene, rugbyspan van Citrusdal. Ondersteuners het bygedra tot die opwinding van die dag. Hier is ’n paar hoogtepunte van die onderskeie wedstryde:

Young Spurs se drome is nog steeds lewendig ná hul A-span se oorwinning van 29-9 oor Excelsiors op Oceana Park. David Fredericks, afrigter van Young Spurs, het weer sy afrigtersvernuf getoon deur die bal weg te hou van Excelsiors se giftige agterspelers. Sy voorspelers het die bal goed gedra en heel dag oor die voordeellyn gekom. Die jong speler, Dwayne Adams, was weer ’n doring in die vlees van sy teenstanders en is goed ondersteun deur Charl van Wyk, Clifford Klaase en Franky Afrikaner.

Die uitslae van Young Spurs en Excelsiors is as volg:

Die A-span van Young Spurs klop Excelsiors met 29-9. Melvin Boks van Excelsiors RVK slaag met drie strafskoppe. Geen puntemakers van Young Spurs is aangedui nie.

Die B-span van Young Spurs verloor teen hul teenstanders met 20-15. Puntemakers van Excelsiors RVK: Clarence Diergaardt druk 2 drieë en Pat van Wyk sorg vir een. Darren Korner slaag met twee doelskoppe en twee strafskoppe. Geen puntemakers van Young Spurs is bekend gemaak nie.

Young Spurs se C-span klop Excelsiors met 31-8. Deban Koopman het gesorg vir een drie en Gregory Filand sorg vir een strafskop.

Invincible RVK vs Citrusdal RVK uitslae:

Citrusdal, wat heel jaar nie so goed gedoen het op die pad nie, het Saterdag hul A-game gebring en dinge baie moeilik gemaak. Invincible RVK se voorspelers het weer soos van ouds hul bes gedoen. Die A-span-kaptein Bongani Willie het ’n uitstekende wedstryd gehad en is goed ondersteun deur sy flankmaat, Ellenay Ockhuis. Citrusdal se agterspelers het weer die bal woes rondgeswaai en by tye selfs die tuis-toeskouers op hul tone gehad. Ricardo Pedro van Citrusdal het hom goed van sy taak gekwyt en ook Winfred Fransman het homself op die veld bewys.

Die span in Swart van Vredendal se A-span slaag om hierdie taai stryd met 27-22 te wen. Geluk Coach Hillo en sterkte met komende Saterdag se derby teen die Arende (Vanrhynsdorp Eagles).

Uitslae:

Die A-span van Invincible RVK wen met 27-22 teen Citrusdal. Swartes se puntemakers: drieë – Dillon Cloete, Garth Dirks, Keanu Don en JP Nortjé. Stelskoppe Edwin Maarman het gesorg vir twee stelskoppe en twee strafskoppe.

Die B-span van Invincible RVK klop ook hul teenstanders met 41-3. Puntemakers van Invincible RVK: drieë – T Mannel (2), Chrandew Steenkamp, Boltwin Adonis, Andrew Phillips Johanco Claassens en Ettienne Moolman. Cameron Cloete verdoel twee stelskoppe en Jason Flink een.

Citrusdal het geen C-span gehad nie.

Maak seker jy mis nie eerskomende Saterdag, 18 Augustus se wedstryd van Invincible RVK en Vanrhynsdorp Eagles op Vredendal-Noord se sportterrein (Jive Park) nie. Excelsiors RVK speel gasheer vir Marines van Lambertsbaai. Young Spurs van Doringbaai reis na Clanwilliam waar hulle kragte gaan meet teen Delicious RVK. Dit gaan beslis die moeite werd wees om te kyk.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?