Vergenoeg Primêr se ouers vat veiligheid vas

’n Ma se werk is nooit klaar nie, al is sy hoe georganiseerd. Sy sorg dat haar kind se skoolklere skoon en gestryk is vir die volgende skooldag. Sy sit tot laat in die aand om nét so hard te konsentreer op huiswerk wat al kon klaar wees as haar klein rebel net vroeër kon begin. Die kosblik word gepak terwyl die huis nog tjoepstil is en dan durf sy nog die winteroggende aan om betyds by haar werk uit te kom. Oggende gaan dol en sy kan nie verseker wees dat haar kleinding veilig by die skool uitgekom het nie. Dis waar ’n groep mammas besluit het om ander ouers te help om hul kinders veilig by die skool te besorg. 

Vergenoeg Primêr in Vredendal-Noord is dankbaar en bevoorreg om hierdie toegewyde ouers se hulp te hê wat ekstra veiligheid en sekuriteit verskaf aan leerders van die skool. Die dames sorg dat alle leerders veilig en betyds by die skool opdaag en middae word hulle weer veilig huistoe gelei. Ander ouers toon ook hul waardering aan Herretta Windfield, Lenie van Wyk, Stephanie Mebel, Salome Tieties, Karen Adams, Katy Mohammed, Katrina Love en Siena Andrews, omdat hulle met ’n geruste hart betyds by die werk kan inklok. 

As Rooikappie maar net dieselfde beskerm-engelle in die woud op pad na haar ouma gehad het sou dit haar minder moeite gespaar het. Vergenoeg Primêr se Graad R’s het verlede week op 2 Augustus konsert gehou. Hulle het ‘Rooikappie met ’n Twist’ op die planke gebring. Die gehoor is vermaak met energieke spel en ritmiese danspassies. Die kleurvolle konsert was ’n groot sukses en die skool sê baie dankie aan almal wat hulle ondersteun het. Vergenoeg Primêr tel beslis momentum op om dié skooljaar met volbringing af te sluit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?