Nuus van Hoërskool Lutzville

Na ’n baie bedrywige en vol eerste kwartaal by Hoërskool Lutzville is dit weereens ’n aangename voorreg om alle aktiwiteite en goeie nuus met ouers te deel. Met ’n tema van “Eenheid” in 2018, kan HSL met trots sê dat die sukses van die talle geleenthede wat hulle die eerste kwartaal aangebied/aangedurf het, alles te danke is aan die “Eenheid” waarmee hulle skool, leerlinge, personeel, ouers en gemeenskap saamgewerk het.

HSL is ook baie dankbaar dat die skoolterrein, danksy ’n boorgat, nog een van die min skoolterreine is wat ’n bietjie groenigheid toon.

Hoërskool Lutzville wil die volgende nuus met leerders, ouers en die gemeenskap van Lutzville deel oor aktiwiteite wat tydens die eerste kwartaal en 2017 plaasgevind het:

Personeel

Personeel by HSL wissel voortdurend en die personeel verwelkom mev. Anneli Erasmus wat aangesluit het by die span. Die skool groet ook vir Petrus Boois wat vir 25 jaar by die koshuis werksaam was.

Tydens die beheerliggaamverkiesing is die volgende persone verkies:

Thys Nieuwoudt, Johan Coetzee, Mark Hoffmann, Eben Visagie, Christie Klaase, Marileze Naudé en Nathasha Mouton.

Akademies:

Op akademiese gebied is die skool baie trots op die 17de agtereenvolgende 100% slaagsyfer van die matrikulante. HS Lutzville is ook aangewys as een van die toppresterende skole in die Wes-Kaap. HSL spog in 2017 met drie A-gemiddeldes:

  • Sjaan Coetzee – 89%,
  • Lené Eygelaar – 87,3% en
  • Lize-Mari Kersop – 81,1%.

Verder spog hulle met 36 vak A’s en toelating tot ’n B-graad van 65% en diploma van 32.5%. HSL het ook die hoogste vakgemiddelde in die Weskus vir Besigheidstudie en Tegnologie Siviel asook ’n vyfde plek in die Wes-Kaap vir Tegnologie Siviel. Die skool het ook weer in 2017 besonders goed gevaar met die Nasionale Sistemiese Eksamen in gr. 3, 6 en 9.

Om die akademie te versterk is daar elke Dinsdagmiddag na skool ’n uur of wat oopgehou vir ekstra klasse in enige area waar dit nodig mag wees. Enige leerling is welkom om dit by te woon. Leerlinge word ook op verskeie vakgebiede blootgestel aan olimpiades en taalbondeksamens. Cape Town Science Centre het tydens ’n besoek aan die skool die graad 8- tot graad 12-leerders blootgestel aan interessante eksperimente, demonstrasies en uitstallings.

Hoërskool Lutzville wil ook net vir ouers se gerusstelling noem dat hulle gereeld toetse doen vir dwelms en alles wat moontlik onwettig kan wees. Die honde-eenheid het die skool tydens die eerste kwaartaal kom besoek en daar is niks ongewens gevind of uitgesnuffel nie.

Oudskoliere-nuus:

Oudskoliere maak die skool voortdurend trots. Timothy Nel, wat in 2012 hier matrikuleer het, het sy LLB-graad voltooi en is ook aanvaar vir sy meestersgraad in handelsreg.

Susan du Toit wat in 2000 hier gematrikuleer het as Susan van Zyl, het haar doktorsgraad behaal in opvoedkundige sielkunde.

HSL kan ook met trots noem dat Erhard Lambrechts die skool se heel eerste leerling is wat sy pro status in gholf ontvang het. HSL gaan beslis hierdie talentvolle jongman se vordering op die professionele leer dophou.

Sport:

Sport bly vir die skool ’n geleentheid waar “Eenheid” op sy beste gevorm word. Hoërskool Lutzville wil vir elke buite-afrigter dankie sê wat bereid is om ook op hierdie gebied hande te vat.

HS Tennis het vanjaar ’n Boland Kavalierspeler, Adri Lambrechts, opgelewer. Die HS seuns het ook die A- en B-tennisliga gewen. Die laerskool-tennisspanne het hul seisoen afgesluit met ’n heerlike tennistoer na Citrusdal.

Dit is ook die eerste keer wat hulle drie atletiekbyeenkomste binne een week aangebied het. Dit was uiters suksesvol en sonder die gedugte Lutzville-eenheid sou dit totaal onmoontlik gewees het! Baie dankie elkeen wat gehelp het – komplimente het ingestroom! Die atlete vaar ook uiters goed. HS Lutzville is tydens die driehoekbyeenkoms by Augsburg aangewys as die algehele wenner van die dag. Verskeie rekords het gespat tydens die kleuresport, Noordwes-Boland-, Boland- asook Wes-Kaapse byeenkomste.

Waldeano Cloete (1 500 m) en JJ Engelbrecht (spiesgooi) het gevorder tot by die SA byeenkoms.

Ses seuns is opgeneem in die NWBoland-krieketspanne vir hul onderskeie ouderdomme. Drie  van hierdie spelers, Armand van Dyk, Davon Casper en Jevon Thomas is opgeneem in die Wes-Boland krieketspan.

HSL spog ook met drie skaakspelers wat in die Bo-Weskus skoleskaakspan opgeneem is. Twee van hierdie kranige skaakspelers is nou deur vir Weskusproewe. Hoërskool Lutzville het nie net sport nie – daar is ook sports.

Die eerste kwartaal se sportprogram is afgesluit met ’n regte outydse boeresportdag. Wat ’n lekkerte om nog met soveel pret en lag ’n vol kwartaal te kan afsluit. Die leerlingleiers het ook vir die laerskoolleerders ’n heerlike speletjies middag aangebied.

HSL wil baie dankie sê aan elkeen wat die eerste kwartaal ’n bydrae, op watter manier ook al, gemaak het tot voordeel van die skool. Met die gemeenskap se gewillige hande en harte kan HS Lutzville nie anders as uitstaan in alles wat hulle aanpak nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?