Laerskool Vredendal

Wat ’n belewenis was die afskeid! Almal was in hul mooiste, maar gemaklikste uitrustings uitgevat. Sommige wat volgens die tema aangetrek het, het uit die Wilde Weste opgedaag – geklee in cowboy hoed, “bootse’’ en was sommer baie kreatief. Met hulle aankoms by die Keldery, het hulle vooraf saam met hulle ouers heerlik skemerkelkies geniet. Hulle kon ook die kosbare oomblikke in die fotohoekie vir ewig vasvang.

Die aand het afgeskop met die formele verrigtinge waar mnr. Moon sy afskeidsboodskap gelewer het en daarna het die veelbesproke graad-sewe toekennings gevolg. Die hoofleerders het aan elkeen ‘n geskenkie, ’n “koordlose Wi-Fi-toestel”, oorhandig.

Toe begin die Wilde Weste-partytjie waar slegs kinders onder 15 toegelaat is. Eers was almal rustig en het hulle hulself tuisgemaak op die tuinbankies. Die lanterns het ’n wonderlike atmosfeer geskep. Daar was botteltjies koeldrank in oorvloed. Toe die musiek van hulle DJ met asemrowende disko-ligte begin speel, was niemand egter meer skaam om hul verskillende danspassies te wys nie. So by 8-uur het almal ’n heerlike aandete van hamburgers, skyfies en uieringe geniet.

Hulle kon nie wag om die nageregtafel ordentlik by te kom nie. Wat ’n fees! Ons kon ons eie roomysballetjies versier. Die leerders het elkeen ’n mooi sakkie ontvang en kon na hartelus hulle sakkies by die lekkergoedtafel volmaak. Na ete, gelaai met hope energie, was daar nog tyd vir fotosessies en is daar heerlik gedans en saamgelag.  

Met sakkies propvol gekleurde lekkertjies en die mooiste kolwyntjies in die hand, klim hulle tienuur in die bus op pad huis toe. Laerskool Vredendal het beslis ’n spoor in elkeen van ons harte gelaat.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?