Laerskool Vredendal-nuus

Nuwe Graad R’s en 1’s besoek LSV

Op Donderdag, 16 November het die ouers van 30 nuwe Gr. R-leerders en ongeveer 90 nuwe Gr. 1-leerders ’n inligtingssessie by Laerskool Vredendal bygewoon. Volgens Cobus Nieuwoudt, assistent-onderwyser by Laerskool Vredendal, was dit nie sommer net enige inligtingssessie nie; ouers is gou herinner dat hul leerders volgende jaar Gr. R en 1 is.

“Die aand is gevul met insiggewende praatjies om die senuwees te kalmeer, asook om meer uit te vind oor wat van hul kosbare engeltjies verwag word,” het Nieuwoudt gesê.

Opwinding het geheers op Vrydag, 17 November toe die leerders kans gekry het om die skool te besoek. Die nuwe Kabouters, Beertjies, Hasies, en Katjies het volgens Nieuwoudt hul onderwysers ontmoet en sommige van hulle was so gretig dat hulle selfs skool-skool begin speel het.

“Laerskool Vredendal en personeel sien voorwaar uit om hierdie leerders volgende jaar by die skool te verwelkom,” het Nieuwoudt gesê.

Kabouter Kampus hou fondsinsameling

Op Donderdag, 23 November het Kabouter Kampus hul jaarlikse fondinsameling gehou. Hierdie jaar is fondse met ’n aangename fliekdag ingesamel. Vir R20 het leerders die volgende pakket ontvang: Die geleentheid om gewone klere te dra en ’n kospakkie wat springmielies, koeldrank en lekkergoed bevat het.

Die saal was gepak met komberse en kussings en ’n rustige atmosfeer het geheers. Gr. R – 3 het eerste hul fliek gekyk en daarna was dit die gr. 4 – 7’s se beurt. Die snoepie was van vroegoggend af oop en leerders kon hul daar aan heerlike snoeperye verlustig.

Graad R-gradeplegtigheid

Wat is ’n gradeplegtigheid sonder opgewonde Kabouter-studente? Kabouter Kampus het hul gradeplegtigheid op Dinsdag, 28 November gehou. Altesaam 30 leerders het hierdie jaar “gegradueer” en elk ’n sertifikaat van me. C. Dayson ontvang. Ouers het daarna gesellig om die vuur verkeer en ’n braaivleisete geniet.

Die hoogtepunt van die aand was toe Kersvader opgedaag het. Twee sakke vol geskenke was duidelik te min en die feetjies van die ysberge moes toe sorg vir die res van die geskenke.

   

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?