Kosblik-idees vir jou kind vir die tweede kwartaal

Dit is ’n moeilike taak om daagliks jou kind se kosblik interessant te hou. Of jy nou ’n kleuter, jong kind of tiener onder jou dak het, hier is paar idees om jou kinders se kosblikke met gesonde kos te vul.  

As jy ’n ouer is, sal jy beslis wil hê dat jou kind gesond moet wees. Met ons daaglikse gejaagde leefstyl, is dit uiters moeilik om te verseker dat jou hele gesin die regte voedingstowwe inkry. Dit is dus van kardinale belang dat jy tyd daaraan afstaan om jou kind se kosblik vir skool mooi vooruit te beplan. Dit sal maklik en vinnig wees as jy egter die aand voor die tyd alles gereed kry en dan kan jy die kosblik die volgende oggend in ’n japtrap voor skool pak.

Volg gerus hierdie voorstelle om die beste kosblik vir jou kind te kan bied wat hy/sy baie sal waardeer:

Toebroodjies met skop

Om die voorspelbare toebroodjies te vermy, sal dit goed wees om kreatief te wees. Probeer om gesonde produkte op volgraanbrood te plaas. Wissel dit ook gereeld af en hou dit heerlik. Jy kan byvoorbeeld vandag kropslaai, kaas en komkommer op die broodjie sit en die volgende dag weer ham en tamatie.

Volgraanmuffins

As jy nie aldag voor ’n warm oond wil staan nie of doodeenvoudig net nie tyd het om hierdie fyngebak voor te berei nie, kan jy gerus by jou naaste inkopiewinkel ’n draai maak. Meeste winkels kry daagliks vars, gesonde muffins in wat jou kind terdeë sal geniet. Maak net seker jy koop nie kolwyntjies in plaas van volgraan- of bloubessiemuffins nie. Kolwyntjies is vol suiker en baie ongesond.

Pastaslaai

Dit is doodmaklik om die aand voor die tyd ’n potjie pasta te kook en dit oornag in die yskas te laat afkoel. Maak ’n lekker pastaslaai met pitmielies, ertjies, tuna en soetrissie. Jy kan selfs opgesnyde hardgekookte eier byvoeg. Maak dan ’n laevet pastasous met laevet joghurt, ’n bietjie mayonnaise en geurmiddels.

Volgraanbeskuitjies werk fantasties met fyngemaakte avokadopeer of hummus. Jy kan ook enigiets op hierdie beskuitjies plaas wat gesond is en waarvan jou kind hou.

Dit is wetenskaplik bewys dat as kos lekker lyk, dan sal jou kinders dit verorber. Wees versigtig om iets vir jou kind in te pak wat kan sleg word.

Moenie vergeet van vrugte nie. Jy kan vrugte ook lekkerder laat lyk deur dit op te sny en in ’n gerieflike bakkie te sit. As die vrugte in klein stukkies is en dit heerlik en sappig lyk, sal jou kind nie skroom om vrugte te eet nie.

Vleispasteitjies is ook ’n wonderlike keuse en ook ’n goeie bron van proteïene. Jy kan ’n wye reeks pasteitjies in jou naaste winkel koop wat of klaar gaar is, of net vinnig gebak moet word.  

Met die volg van hierdie wenke sal jy altyd ’n heerlike kosblik vir jou kind kan inpak.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?