Booysendal VGK Primêr bring positiewe verandering vir leerders en ouers

Booysendal VGK Primêr het die afgelope paar maande vele veranderinge ondergaan. Die skool bring ouers, skool en kinders bymekaar om almal te help bemagtig.

Een van die belangrikste fokusse vir vanjaar is ouerbetrokkenheid. Projekte wat geloods word, word deur die ouers gedoen om kostes te bespaar en sodoende ouers betrokke te kry by die leer van hulle kinders.Twee groot projekte vir die derde en vierde kwartaal was om ’n stoep voor die klaskamers te bou om toegang tot die klasse rolstoelvriendelik te maak. Ouers het verskeie naweke ingespring en begin grawe ter voorbereiding vir die lê en bou van die fondasie. Die afronding sal nou wees om afdakke voor die klasse te maak vir beskerming teen die reën en die wind.

Die volgende projek is die verf van die klaskamers wat ook deur die ouers gedoen sal word. Hulle het reeds begin met die afskuur van die ou verf om so gou as moontlik te begin met die verf van geboue onder leiding van die SBL-lede. Die leerders raak op hulle beurt betrokke in die skool se tuin ter versterking van die curriculum in tale, wiskunde, lewensvaardigheid en natuurwetenskap.

Die skool maak tans ook gereed vir hul grootste funksie in die vierde kwartaal, ’n sang- en musiekaand komende Saterdag, 13 Oktober. Die gospel-sangeres en spesiale gas sal Remalia Esau wees, met nog ander plaaslike kunstenaars wat besoekers gaan vermaak. Die geleentheid vind by die Jakkerland Speelkring-perseel plaas. Toegang by die deur is R50 vir volwassenes en R20 vir kinders. Wonita Cloete kan gekontak word by 083 400 6956 vir verdere navrae.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?