Bewarea-bewuswordingsveldtog skop af by Laerskool Nieuwoudtville

Die Bewarea-bewuswordingsveldtog beplan om deur middel van vier sessies per jaar Graad 6-leerders van Laerskool Nieuwoudtville in te lig oor die Bewarea-konsep om sodoende hulle meer bewus te maak van algemene natuurbewaring.

Op 22 Maart het Erika Kotzé, Arika van Niekerk en Mandie Kotze (fotograaf) die skool besoek om die eerste Bokkievelder-inligtingsessie aan te bied. ’n Groep van ongeveer 48 leerders het die eerste sessie voltooi. Die Bokkeveld Bewarea-logo is tydens hierdie sessie bespreek. Die logo bevat die bedreigde witkruisvleivalk, asook ons pragtige blom; die Blou Trots van Nieuwoudtville. Die leerders het verder geleer oor die Wat, Hoekom, Waar en Wie van ’n Bewarea. ’n Bewarea is ’n area wat bewaar word.

Die sessie is afgesluit met ’n blokkiesraaisel. Die leerders het al die inligting ontvang in ’n Bokkievelder-inligtingstuk en moes dit gebruik om die blokkiesraaisel te voltooi. Sessie 2 sal handel oor bewaring en in meer besonderhede verskaf oor die gevaar van brande, waterbesparing en rommelstrooiing.

In sessie 3 gaan die span die leerders inlig oor die plantegroei van Nieuwoudtville, onder meer, fynbos en renosterveld- en seisoenale blomme. Gedurende die laaste sessie word daar ’n besoek na die Hantam Nasionale Botaniese Tuin beplan.

Die span hoop om deur middel van hierdie sessies die leerders behoorlik in te lig sodat hulle die regte besluite kan maak wanneer dit kom by die bewaring van ons omgewing. Die bewaring van die omgewing lê in ons eie hande. Deur saam te werk kan ons ’n skoner, gesonder, gelukkiger, groener en mooier Nieuwoudtville skep.

Bron: Erika Kotzé

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?