Sjef Tiaan: Van jongs af passievol oor kos

Suid-Afrika het hom in 2013 op kykNET se Kokkedoor leer ken. Tiaan Langenegger het daar en dan in die koswêreld se harte ingekruip. Hy is mal oor seekos, verkieslik vars uit die see, want dit is “lekker om vir ’n groep mense op ’n vuur voor te berei”.

Tiaan woon op Somerset-Wes, waar hy gereeld by een van sy gunstelingrestaurante, Fred & Max, eet. Hy kook reeds vandat hy kan onthou. “My ma het my toegelaat om van jongs af in die kombuis doening te wees en my ouma maak die beste kos,” sê hy. Sy gunstelingresep is ’n heel gebraaide vis, wat op koerantpapier op ’n tafel neergesit word en dan deur sy familie en beste vriende geniet word. Dit gaan gepaard met lekker wyn en goeie geselskap. “Dit gaan meer oor die mense,” sê hy.

Hy vind graag inspirasie by die internasionaal-bekende sjef, Jamie Oliver: “Ek hou van sy benadering tot kos.” Plaaslik kyk hy op na sjef Christian Campbell.

Maar kos is nie al wat hom gelukkig maak nie: “Ek is passievol en gaande daaroor om mense om my te hê.” Hy geniet ook foto- en videografie, wanneer hy daarvoor tyd het. Hy is tans besig om te leer hoe om jenewer en schnapps te maak. “Ek het besluit om te leer hoe om dit te maak om my kennis ’n bietjie uit te brei,” sluit hy af.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?