Sewe stappe tot ’n doeltreffende begroting

Werk jy volgens ’n begroting, maar spandeer nog steeds meer as wat jy moet? Hier volg ’n paar stappe vir mense wat sukkel om met ’n begroting te werk. Volg dit gerus en kyk hoe jou geldsake dan uitwerk.

1. Begroot elke salaris tot in die fynste detail
Begroting is vir meeste mense ’n onaangename woord, maar om sukses te behaal met jou koeverte moet jy tot die laaste sent begroot. ’n Mens is maklik geneig om geld op nietighede te spandeer en teen die einde van die maand staan jy verstom dat jou rekening leeg is!
2. Deel jou geld op om dit beter te beheer

Bepaal wat jy alles uit jou sak per maand betaal. Maak kategorieë soos petrol, kos, klere en vermaak. Daar is natuurlik sekere items op jou begroting wat jy elektronies betaal en jy kan uiteraard nie hierdie geld in koeverte sit nie. Maar sover as wat jy kan, deel jou geld op wat nie per debietorder afgetrek word nie.

3. Maak jou koeverte vol
Nadat jy jou uitgawes in kategorieë verdeel het, sit die aangeduide bedrag in elke koevert. As jy byvoorbeeld R500 vir klere begroot het, sit nou daardie R500 in jou “klere”-koevertjie.

4. Wanneer dit op is, is dit op
Hier kom die belangrikste… Wanneer jy al die geld in ’n spesifieke koevert gespandeer het, is jy klaar met daardie groep vir die maand. Met ander woorde, jou koevertjie is leeg, dis klaar. Jy mag níé by die OTM nog geld trek of met jou kaart betaal nie. Maak dus seker jy het genoeg geld weggesit vir dinge soos kos en petrol. ’n Mens is geneig om te min vir veral kos te begroot.

5. Moenie in versoeking gestel word nie
Jy mag dalk redeneer dat jou debietkaart nie skuld maak soos ’n kredietkaart nie, maar daar is iets sielkundig wat dit moeiliker maak om kontant te spandeer as om jou kaart te gebruik. As jy dit ’n gewoonte kan maak om eerder kontant te gebruik, sal jy minder geneig wees om te veel geld uit te gee.

6. Rond jou koevertstelsel oor tyd af
Moenie sommer moed opgee as jy ná ’n maand of twee nog nie jou begroting heeltemal reggekry het nie. As jy vasbyt en deurdruk sal jy wel sien hoe hierdie stelsel jou geldsake kan regruk.

7. Maak tyd vir pret ook!
Moenie ’n wet maak wat sê jy mag nie ook geld wegsit vir lekker dinge nie. As jy en manlief saamstem, of as jy voel jou begroting kan dit hanteer, maak gerus ’n “pret”-koevertjie. Hierdie geld kan vir enigiets gebruik word buite die normale. Om goed met geld te werk, hoef nie ’n nagmerrie te wees nie.

Bron: www.daveramsey.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?