Sepie-voorskou: 8 – 21 November

Wil jy weet wat gebeur volgende in jou gunsteling Afrikaanse sepie? Vind hier uit!

7de Laan:
Weekdae – 18:00
SABC2

Verlede keer:
’n Hoogswanger Bonita het onverwags teruggekeer na Hillside, Alexa het haar reputasie as ’n dokter op die spel geplaas en Rickus het Amorey gekonfronteer oor hoe sleg sy hul ma, Mariaan, behandel.

8 – 10 November
Willem en André kom nie goed oor die weg nie, Vanessa kry regsadvies by Lesedi of sy van Xander moet skei of nie, en Fikani bewys sy lojaliteit aan Rickus. Vince probeer die vrede tussen al die Meintjiese bewaar, Alexa raak te betrokke by een van haar pasiënte wat bloedkanker het, en Justin is vasbeslote om die waarheid oor Bonita en haar baba uit te vind.

13 – 17 November:
Hilda is verlig wanneer sy uitvind haar finansiële probleme is iets van die verlede, Mariaan steek haar neus in ander se sake en André worstel om te besluit of hy die polisie oor Karmen moet bel. Vanessa trek tydelik by haar ma in en Vernon, die nuwe boetiek-assistent, gee Hilda raad oor die nuutste modeneigings. Charmaine en Vanessa is uit die veld geslaan wanneer Xander hulle inlig Karmen is gevind en André dink Alexa is ’n held, maar sy voel jammer vir Hettie en Tjattas wat na Karmen omgesien het. Mariaan is hoopvol Chris gaan haar vir alles vergewe.

20 – 21 November:
Vanessa en Xander se huwelik wankel, Mariaan is verpletter wanneer Chris weer vir Ruda begin sien, en Amorey en Alexa stamp koppe.

Binnelanders
Weekdae – 19:30
kykNET

Verlede keer:
Wimpie het by Breggie begin vlerksleep, Anton het Karli ontvoer toe sy op pad Bali toe was, en Karli het ’n brand gestig om die rookalarms te aktiveer in die hoop dat sy gevind word.

8 – 10 November:
Conrad bel Dirk oor Pippa, At wil nie Jana se hulp hê nie, en Jana is moedeloos oor Karli. Conrad vra Piet se hulp om Karli op te spoor, ’n senuagtige Anton het ’n plan om noodsaaklike medisyne te kry, en Louis besef wat At se grootste vrees is. Sekuriteitskameras kan nie die nodige antwoorde verskaf nie.

13 – 17 November:
Ilse waarsku Okkie ná Naomi se skokaankondiging, Jana haal haar frustrasies op Tertius uit, en Anton het ’n dodelike plan. Die hoofverdagte in Karli se verdwyning word ondersoek, Conrad is nie beïndruk om Anton in die hospitaal te sien nie, en Annelize konfronteer Conrad oor Pippa. Okkie vind iets skokkends uit, die onkologiesentrum word die volgende teiken in die visier, en Jana beken iets oor At teenoor Louis. Pippa kies die hasepad, Ivanka deel groot nuus met die Ferreiras, en Ilse en Okkie besluit om die waarheid van Ivanka te weerhou.

20 – 21 November:
Naomi is onseker oor hoe om Ferdi gerus te stel, en Karli probeer Naomi paai. Graham wil planne vir Oukersaand met Ilse en Okkie bespreek, en Ivanka moet ’n besluit oor At neem. Delia en Conrad maak ’n afspraak, en Louis is steeds geskok oor sy ontdekking.

Suidooster
Maandag tot Donderdag – 18:30
kykNET en kykNET & kie

Verlede keer:
Lee-Ann en Adam het van hul wittebrood teruggekeer, Tim het sy meisie Danni verder weggestoot, en Michelle het moeite gedoen om haar en Stefan se verhouding gelukkig te hou.

8 – 9 November:
Adam se optrede veroorsaak pandemonium, Rhafiek gaan nog ’n moontlike toekomstige bruid ontmoet, en Stefan se geesdrif oor Stella begin Michelle onderkry. Stefan smeek Michelle vir nog ’n kans, Tim sukkel om Chris van sy probleme te vertel, en Lee-Ann besef hoeveel skade Adam werklik aangerig het.

13 – 16 November:
Ian het ’n reddingsboei vir die Suidooster-Sentrum, maar Lee-Ann wil niks weet nie, en Rhafiek wil met Nuraan trou, maar AB loop ’n bloutjie by haar pa. Die Suidooster-Sentrum se aandeelhouers teken die kontrak vir samesmelting, Lee-Ann verwyt haarself oor wat gebeur het, en Rhafiek vind uit Nuraan se pa het probleme met Mymoena en Bianca. Michelle verwerp Bianca se vriendskap, Tim is ongelukkig met sy sielkundige se raad en kry ’n terugslag nadat hy met kunsterapie begin, en mnr. Jaffer besoek die Samsodiens. Tim besluit om kunsterapie nog ’n kans te gee, Mymoena kry besoek van Nuraan wat Mymoena tot ander insigte bring, en Bridgette roep Mrs J se hulp in om Lee-Ann van haarself te probeer red.

20 – 21 November:
Ty en Wade se kooklesse verloop beter as die vorige keer, maar Mrs J voel nie gesond nie. Mymoena belowe om nie oorboord te gaan met Nuraan en Rhafiekse eerste afspraak nie, en Danielle is bekommerd wanneer sy iets oor Tim uitvind.

Getroud met Rugby:
Weekdae – 21:00
kykNET

Verlede keer:
Schalk het steeds geworstel om antwoorde vir die uitgelekte wedstrydplanne te kry, Bibi en Ike het teruggekeer van hul wittebrood in KwaZulu-Natal, en Anna het by die Bekkers ingetrek.

8 – 10 November:
Koekie kry teenstand van Fafa oor haar teetuin, TJ raak senuagtig oor die oorgang na hoërskool, en Silvia maak Blitz se lewe moeilik in haar pogings om hul vriendskap geheim te hou. Dis ’n saak van lewe en dood vir Bibi en Maryke wanneer hulle deur twee rowers gyselaar gehou word, Silvia vat die pompons vas, en Kristien maak dinge moeilik vir Liam en Lindy.

13 – 17 November:
Fafa begin veiligheidsmaatreëls by die huis opskerp, Kristien kry haar plan vir Liam aan die gang, en Maryke en Fafa stamp koppe omdat Fafa ’n vuurwapen wil kry. Bibi se posttraumatiese stres neemtoe, en Festus se wens word waar. Maryke en Bibi probeer elk op hul eie manier die trauma van die rooftog verwerk, Koekie kry ’n plan om klante vir haar teetuin te werf, en die stramheid tussen Reitz en Sasha duur voort. Kristien berei Liam voor vir sy onderhoud, en Anna help Chrissie om haar eie styl te vind. Liam se onderhoud vind plaas, Koekie se teetuin begin handuit ruk, en die Bekkers ontmoet ’n nuwe Chrissie ná haar transformasie.

20 – 21 November:
Lindy en Kristien sit vas oor Liam se onderhoud, Koekie se klante is besig om Fafa se huis oor te neem, en Liam konfronteer Kristien oor die artikel.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog opwindende nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?