Senwes kondig groter netto wins aan

Die Senwes-groep se netto wins het in die 2016/17-seisoen met 7,1% gestyg. Die groep het ’n netto wins van R167 miljoen aangekondig vir die finansiële jaar wat op 30 April geëindig het.

Francois Strydom, uitvoerende hoof van die groep, sê: “Hoewel die groepresultate steeds onder druk is weens die vorige jaar se droogte, het die maatskappy daarin geslaag om beter as die makro-ekonomiese toestande te presteer.”

 

Die finansiële resultate van die Senwes-groep vir die 2016/2017-finansiële jaar reflekteer ’n omset van R9,9 miljard (’n styging van 7,6%) en ’n wins na belasting van R167 miljoen (’n styging van 7,1% in vergelyking met die R156 miljoen van die vorige jaar). Die genormaliseerde wesensverdienste het met 36,7% gestyg, van 79,3 sent/aandeel tot 108,4 sent/aandeel vir die finansiële jaar.

 

Dividende

Met ’n interim-dividend van 20c/aandeel (Maart 2017) en ’n finale dividend van 25c/aandeel verklaar deur die raad van direkteure, het aandeelhouers ’n dividendopbrengs van 4,3% op openingsekwiteit ontvang (2016 – 3,9%).

 

Ander belangrike finansiële verhoudings:

  • Verdienste voor rente en belasting (EBIT) uit voortgesette bedrywe het met 14,9% gestyg van R377 miljoen tot R433 miljoen.
  • Inkomste het met 7,6% gestyg tot R9,9 miljard.
  • Verdienste per aandeel is 98,3 sent (2016 – 90,6 sent per aandeel).
  • Opbrengs op openingsekwiteit van 8,9% (2016 – 8,6%).
  • ’n Styging in netto batewaarde van 63,4 sent per aandeel.

 

Toekomsvooruitsigte

Die landboubedryf verander vinnig. Daarbenewens sal die nuwe seisoen waarskynlik sy eie besondere uitdagings hê. ’n Laat seisoen, druk op silo’s om graanlewerings te finaliseer, groot hoeveelhede graan met ’n hoë voginhoud en lae pryse is van die uitdagings wat die grootste deel van die somergraangebied in Suid-Afrika sal moet hanteer. Primêre landbou sal waarskynlik beter as die groter ekonomie sal groei, maar daar word voorsien dat die surplus kontant waarskynlik aangewend sal word om skuldvlakke te normaliseer.

 

Ondanks die goeie oes, is dit onseker of die geskatte risikovlak na normaal sal terugkeer. Die seisoen wat op ’n droogtesiklus volg, word gewoonlik gekenmerk deur grootskaalse regstelling van klantprobleme en uitwinning van diegene wat nie die siklus kon oorleef nie. Belanghebbendes kan egter verseker wees dat Senwes sal voortgaan met sy belegging in innovasie en integrasie en dat hy sy relevansie vir die toekoms verder sal verhoog.

 

Bron: agriorbit.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?