Wees bedag op die klein jakkalsies in jou nuwe besigheid

Daar is verskillende redes vir mense om hul eie ondernemings te begin – of dit nou is dat jy nie vir ’n baas wil werk nie of sodat jy meer geld op jou eie kan verdien. Dan is daar ander wat wil geld maak en verkies om sakegeleenthede te soek waar hulle meer vryheid het sodat hulle meer aandag kan gee aan hul familie.

 

As meer geld die aansporing is om te soek na ’n sakpas-sakegeleentheid is daar ’n sterk moontlikheid dat jy sakegeleenthede sal miskyk omdat jy te haastig is om alles te doen wat gedoen moet word om die besigheid te begin. Daar is ’n spreekwoord wat lui: “Haastige hond verbrand sy mond”.

 

Wanneer mens ’n nuwe besigheid begin, is die manier waarop jy aan die besigheid dink, belangrik. Sommige mense dink dat indien jy die baas is, doen ander mense die werk en jy ryg net die wins in. Daar is ook sommige mense wat dink dat as hulle ’n bestuurder aanstel, sal alles klop disselboom gaan en kan die baas net nou en dan inloer. Dit is glad nie waar nie. Inteendeel, die eerste paar jaar behoort jy elke dag by die besigheid te wees, juis omdat dit die vormingsjare van die besigheid is. Jy moet elke dag aktief betrokke wees en besef dat nie alle besighede op dieselfde manier begin en hanteer word nie.

 

Dit is altyd goed om kursusse by te woon wat betrekking het op die sakpas-sakegeleentheid wat jy wil begin. Jy moet voorberei om ’n sakegeleentheid in ’n besigheid te omskep. Hoe meer kennis en vaardighede mens onder die blad het, hoe beter die kanse dat jou besigheid suksesvol sal wees.

 

Almal van ons droom groot en daar is niks daarmee verkeerd nie. Die proses om ’n besigheid te begin, verg uithouvermoë en die wil om te doen wat jy moet doen om suksesvol te wees. Niks gebeur oornag nie en wanneer mens niks doen nie, gebeur net mooi niks. Jy moet ’n diep begeerte en passie hê om jou besigheid op die been te bring en jouself nie misgis oor wat prakties en behaalbaar is nie. Dit beteken dat jy ’n plan vir jou besigheid moet hê en die plan moet gedurig hersien word sodat jy seker is dat jy nog op die regte koers is.

 

Skryf jou plan van aksie neer sodat jy jou vordering kan monitor.

 

Wanneer jy ’n fout maak, vergewe jouself, leer uit die fout en gaan voort. Baie mense wat hul besigheid begin, draai om as gevolg van jakkalsies in die wingerd en gee op met die eerste aanduiding van probleme. Dit is tog so jammer! Daar is soveel inligting op die internet, ja selfs op hierdie webwerf, waar inligting beskikbaar is wat daardie jakalsies in ’n japtrap uitsorteer!

 

Wanneer ’n mens ’n fout maak kan dit skoolgeld kos, maar daar is weer ’n geleentheid om te probeer omdat jy nou weet wat nie werk nie. Met nog ’n bietjie durf en daad en vertroue in jouself kan jy nou iets anders probeer – natuurlik nadat jy weer bietjie huiswerk gedoen het. Selfdissipline is baie belangrik aangesien daar nie nou ’n baas is wat jou gaan monitor nie. Jy moet self sorg dat jy betyds is om die besigheid se deure te open en dit is nou jou taak om die werkers te monitor. Jou sukses hang af van hoe bereidwillig en hoe konstant en gedissiplineerd jy jou besigheid bedryf.

Natuurlik is ander persoonlike eienskappe nodig wanneer mens jou eie besigheid bedryf as wanneer jy vir ’n baas werk. Voorheen het die baas besluit wat gebeur en dit was nie nodig om self te dink nie. Nou is jy verantwoordelik vir jou besigheid se groei en vooruitgang en dit beteken dat jy selfdissipline moet toepas. Nie alle sakegeleenthede is dieselfde nie, elke besigheid het sy eie unieke samestelling afhangende van die produkte en dienste wat gelewer word. Daarom word alle besighede nie dieselfde bestuur nie; elke besigheidseienaar is uniek in talente en sakevernuf.

 

Wanneer die besigheideienaar besef dat elke probleem wat ’n klient ondervind ’n geleentheid is om besigheid te doen, is dít wanneer die besigheid begin floreer en geld maak. Die feit is dat die probleem ongerief by die kliënt skep waarvan hy ontslae van wil raak. Wanneer jou besigheid die oplossing vir die probleem aanbied of voorsien en dit boonop die kliënt se sak en jou sak pas, sal die kliënt altyd weer terug kom indien hy goeie diens ontvang het.

 

Voorbeelde hiervan is:

 

Jou bereidwilligheid om die beste diens te lewer.

 

Is die mense wat met die publiek werk behoorlik opgelei om jou besigheid en produkte te bemark.

 

Vrae te vra soos: Moet dit so wees of is daar ’n ander oplossing of ’n beter manier om die probleem op te los.

 

Vrae soos: hoe kan ek my produkte goedkoper verkoop en steeds goeie wins maak, kan ek die probleem met my produkte of dienste oplos en indien nie, hoe of waar kan ek die oplossing vind wat my kliente se probleme oplos.
Onthou, kliënte se ongerief en probleme is die bron van jou inkomste!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?