Vyf wenke oor hoe om werk te kry

Wie kry die beste werk? Is dit gewoonlik die persoon met die beste kwalifikasies? Wat kan jy doen om op doeltreffender wyse werk te soek? Kom ons kyk na vyf wenke.

 

Wees georganiseerd

As jy ’n goeie werk verloor het of al ’n ruk lank werkloos is, is dit maklik om mismoedig te raak. Hoe kan jy moedeloosheid teëwerk? Dit is noodsaaklik dat jy jou eie ‘werksdag’-program opstel, sodat jy aan die begin van die dag weet wat jy moet doen. Stel ’n CV op en maak 100% seker dat dit netjies is sonder spelfoute ens. Hou betrekkings dop op verskillende webtuistes asook werk wat aangebied word in koerante en gryp elke geleentheid as die werk geskik is vir jou en volgens jou CV.

 

Kry toegang tot die versteekte arbeidsmark

Die visserman met die grootste net staan ’n baie beter kans om die vis te vang. So ook sal dit jou kanse om werk te kry, verbeter as jy weet hoe om jou “net” groter te maak. As jy werk soek deur uitsluitlik op koerant- of Internetadvertensies te reageer, sal die meeste van die beskikbare betrekkinge eenvoudig deur jou “net” glip. Baie betrekkinge word nooit geadverteer nie. Hoe kan jy toegang kry tot hierdie versteekte arbeidsmark?

 

In plaas van slegs op advertensies te reageer, kan jy elke week tyd opsysit om die ondernemings te kontak wat jy dink dalk werk sal hê wat jy kan doen. Moenie wag dat hulle die poste adverteer nie. As ’n bestuurder sê dat hy nie werk het nie, kan jy hom vra of hy van enigiets anders weet en presies wie jy moet nader. As hy iets aanbeveel, kan jy ’n afspraak met daardie maatskappy maak en die naam gee van die persoon wat jou verwys het.

Jy kan ook jou vriende, familie en ander kennisse vra om jou te help om toegang tot die versteekte arbeidsmark te kry.

 

Wees aanpasbaar

As jy jou kanse wil vergroot om werk te kry, moet jy aanpasbaar wees. ’n Mens moet leer om tevrede te wees met werk wat nie heeltemal ideaal is nie.”

Om aanpasbaar te wees, beteken dalk dat jy nie bevooroordeeld teenoor sekere soorte werk moet wees nie.

 

Stel ’n goeie CV op

Vir diegene wat vir ’n bestuurspos aansoek doen, is dit noodsaaklik om ’n professionele CV op te stel en te versprei. Maar ongeag watter soort werk jy soek, ’n goed saamgestelde CV kan van groot waarde wees. ’n CV sê nie net vir potensiële werkgewers wie jy is nie, maar ook wat jy al bereik het en waarom hulle jou nodig het.

 

Hoe stel ’n mens ’n CV op? Gee jou volle naam, adres, telefoonnommer en e-posadres. Meld jou oogmerk. Maak ’n lys van die opleiding wat jy ontvang het, en veral enige opleiding en vaardighede wat verband hou met die werk waarvoor jy aansoek doen. Verstrek besonderhede van vorige werksondervinding. Moenie net sê wat jy gedoen het nie, maar gee ook voorbeelde van die doelwitte wat jy bereik het en die voordele wat jou werk vir vorige werkgewers meegebring het. Vestig ook die aandag op aspekte van jou vorige werk wat jou geskik maak vir die werk waarvoor jy nou aansoek doen. Sluit persoonlike inligting in oor jou eienskappe, belangstellings en stokperdjies. Omdat die behoeftes van maatskappye verskil, sal jy dalk jou CV vir elke aansoek moet aanpas.

 

Moet jy ’n CV hê as jy vir die eerste keer werk soek? Ja! Daar is moontlik baie dinge wat jy gedoen het wat as werksondervinding kan tel. Het jy byvoorbeeld stokperdjies, soos om houtwerk te doen of ou motors te herstel? Jy kan dit noem. Het jy enige vrywillige werk gedoen? Gee ’n lys van die soort vrywillige werk wat jy al gedoen het en die doelwitte wat jy al bereik het.

 

Voorbeeld van ’n CV vir diegene sonder werksondervinding.

 

Wanneer dit nie moontlik is om ’n onderhoud met ’n voornemende werkgewer te kry nie, kan jy ’n kaartjie maak – verkieslik 10 by 15 sentimeter – met jou naam, adres, telefoonnommer en e-posadres sowel as ’n kort opsomming van jou vaardighede en prestasies. Agterop die kaartjie kan jy, indien gepas, selfs ’n foto van jou of van jou en jou gesin plak.

 

Gee hierdie kaartjie vir almal wat jou kan help om werk te kry, en vra hulle om dit te gee vir enigiemand wat hulle weet die soort werk aanbied waarna jy soek. Wanneer ’n potensiële werkgewer hierdie kaartjie sien, staan hy jou dalk ’n onderhoud toe – en kry jy dalk selfs ’n werk!

As jy ’n CV het, sal dit jou help om in beheer te voel terwyl jy werk soek. Wanneer jy ’n CV opstel, help dit jou om jou gedagtes en doelwitte te organiseer. Dit bou ook jou selfvertroue op omdat dit jou voorberei op vrae wat moontlik gedurende ’n onderhoud gestel kan word.

 

Berei goed voor vir jou onderhoude

 

Hoe berei ’n mens voor vir ’n onderhoud? Jy kan navorsing doen oor die maatskappy waar jy graag wil werk. Hoe meer jy oor die maatskappy weet, hoe beter is die indruk wat jy gedurende die onderhoud sal maak. Jou navorsing sal jou ook help bepaal of die maatskappy werklik die soort werk het waarna jy soek en of jy vir hulle wil werk.

 

Die volgende stap is om te dink aan wat jy gaan aantrek vir die onderhoud. As jy vir ’n werk aansoek doen wat hande-arbeid behels, moet jy gepaste netjiese, skoon klere dra. Netjiese kleredrag en goeie persoonsversorging sê vir die voornemende werkgewer dat jy trots is op jouself en dus ook heel waarskynlik trots sal wees op jou werk. As jy hoop om werk in ’n kantoor te kry, moet jy beskeie klere kies wat as gepaste kantoordrag in jou omgewing beskou word. Kies jou klere lank voordat jy vir jou onderhoud moet gaan, sodat jy nie voor die onderhoud gejaag voel en onnodig gespanne raak nie.

 

Dit word aanbeveel dat mens omtrent 15 minute voor jou onderhoud opdaag. Dit is natuurlik nie wys om te vroeg daar te wees nie. Maar om laat op te daag, kan rampspoedig wees. Kenners sê dat die eerste drie sekondes van jou onderhoud van die allergrootste belang is. Gedurende daardie kort tydjie beoordeel die onderhoudvoerder jou op grond van jou voorkoms en liggaamshouding, wat ’n groot invloed het op sy of haar opinie van jou. Onthou, daar is geen tweede kans om ’n eerste indruk te maak nie.

 

Onthou ook dat die onderhoudvoerder nie jou vyand is nie. Hy moes waarskynlik ook vir sy werk aansoek gedoen het, en daarom weet hy hoe jy voel. Trouens, hy is dalk senuweeagtig, aangesien hy moontlik min of geen opleiding ontvang het om ’n onderhoud te voer nie. En as hy die werkgewer is, kan dit tot sy nadeel wees as hy die verkeerde persoon vir die werk kies.

 

Begin goed deur te glimlag en die onderhoudvoerder met ’n stewige handdruk te groet as dit die gebruik is. Gedurende die onderhoud moet jy fokus op wat die werkgewer van jou verlang en wat jy kan aanbied. ’n Paar dinge wat ’n mens in ag moet neem: “Moenie vroetel nie en sit regop – ’n goeie liggaamshouding openbaar vertroue. Moenie te informeel wees of te veel praat nie, en vermy beslis vuil taal. Moet ook nie negatief oor jou vorige werkgewers en werksmaats wees nie –  as jy negatief oor hulle is, sal die onderhoudvoerder heel moontlik aanneem dat jy ook negatief oor hierdie werk sal wees.”

 

Aangaande dinge wat ’n mens gedurende die onderhoud moet doen en sê, beveel kenners die volgende aan: Behou oogkontak met die onderhoudvoerder, gebruik natuurlike gebare wanneer jy praat en praat duidelik. Wees saaklik en eerlik wanneer jy vrae beantwoord, en vra tersaaklike vrae oor die maatskappy en die werk. As jy aan die einde van die onderhoud nog die werk wil hê, vra daarvoor. Dit sal jou entoesiasme toon.

Vrae wat jy gedurende ’n onderhoud kan verwag:

 

Waarom het jy vir hierdie pos aansoek gedoen?

Waarom wil jy vir hierdie maatskappy werk?

Wat weet jy van die werk/maatskappy/bedryf?

Het jy al voorheen hierdie soort werk gedoen?

Met watter soorte masjinerie kan jy werk?

Watter ondervinding het jy in hierdie soort werk?

Watter vaardighede het jy wat jy in hierdie werk kan gebruik?

Vertel my van jouself.

Watter vyf woorde dink jy sal jou die beste beskryf?

Kan jy onder druk werk?

Waarom het jy jou vorige werk verlaat?

Waarom is jy so lank werkloos?

Wat het jou vorige werkgewer van jou gedink?

Hoe dikwels was jy afwesig van jou vorige werk?

Wat is jou planne vir die toekoms?

Wanneer kan jy begin werk?

Wat is jou sterkste punte?

As jy die wenke hierbo volg, sal jy dalk spoedig werk hê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?