AHi Wes-Kaap skuif sy hoofkantoor na George

Luidens die AHi se persverklaring wat op 30 Januarie uitgestuur is, vorm ’n inbelsentrum waar mense 24 uur per dag inligting kan kry oor aktiwiteite wat hul sakeondernemings raak, deel van die AHi Wes-Kaap se planne om die organisasie meer diensgedrewe te maak.

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê in die verklaring die organisasie is besig om homself te omvorm. Die organisasie se hoofkantoor sal op George wees. Bestuurslede van die AHi Wes-Kaap het ’n strategiese implementeringsvergadering op Bredasdorp gehad. Daar is veral aandag gegee aan hoe die organisasie waarde aan sy lede kan bied.

Die oorspronklike nasionale sakeorganisasie AHi (voorheen bekend as die Afrikaanse Handelsinstituut) het einde September sy naam na die Small Business Institute (SBI) verander. Volgens Cilliers het vrae ontstaan oor die pad vorentoe en hoe die veranderings die AHi Wes-Kaap raak. Volgens Cilliers is die AHi Wes-Kaap ’n selfstandige organisasie.

Volgens die verklaring, vergader die AHi Wes-Kaap Donderdag in Pretoria met senior verteenwoordigers van die SBI. Dit is deel van gesprekke met soortgelyke ander sakeorganisasies.

“Ons wil vasstel watter waarde-aanbod kan organisasies soos die SBI bied. Dit

gaan vir ons oor vennootskappe en nie affiliasies nie,” sê Cilliers. Hy benadruk die AHi Wes-Kaap wil dienste aan sy lede lewer. “Ons wil dit doen deur onder meer entrepreneurskap-ontwikkeling. Dit is die enigste volhoubare wyse om werk te skep. Die ekonomie moet groei en gestimuleer word.”

Cilliers het volgens die verklaring in November België besoek en glo die Unizo-model (Unie van Zelfstandige Ondernemers) wat hy daar gesien het kan plaaslik toegepas word. Unizo se missie is om entrepreneurs te help met raad en inligting. Hy sê as deel van die planne om die organisasie meer diensgerig te maak, word dit omvorm in ’n organisasie sonder winsbejag.

Die AHi Wes-Kaap word in vyf streke verdeel:

  • Tuinroete/Karoo
  • Overberg
  • Wynland
  • Kaapstad metropool en
  • Weskus

In die nuwe maatskappy se direksie sal streekverteenwoordigers sitting hê. Die ideaal is dat elke streek sy eie kantoor sal hê wat uit ’n streekoogpunt sal omsien na die belange van

die sakekamers in die dorpe. Elke streekkantoor sal dienste lewer aan sy eie streek.

Volgens die verklaring word die nuwe dienste uitgerol in die Tuinroete/Karoo as deel van die eerste fase. Daarna sal die Weskus aandag kry en later die ander streke. Die plan is om die 24/7 inbelsentrum vir die Tuinroete in Maart in bedryf te hê en dit sal later uitgebrei word.

Mev. Ilse Lochner, voorsitter van die Clanwilliam Sakekamer, is aangestel as die Weskus-streek se verteenwoordiger op die AHi Bestuur. Vir meer inligting, kontak haar gerus deur ’n e-pos te stuur aan strassberger@lando.co.za.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?