SA wyndruifoes skitter ondanks droogte

Die Suid-Afrikaanse wyndruifoes is effens groter as verlede jaar na ’n droë seisoen en verbruikers kan na uitsonderlike wyne van die 2017-oesjaar uitsien.

Die wynbedryfsliggaam VinPro vertel die 2017-oes, wat teen 1,4 miljoen ton sowat 1% groter as verlede jaar is, is aanvanklik kleiner geskat. “’n Ligter oes is verwag weens die tweede agtereenvolgende baie droë, warm seisoen. Koeler nagte regdeur die groeiseisoen en die afwesigheid van noemenswaardige hittegolwe gedurende parstyd het egter die uitwerking van die droogte tot ’n mate gebuffer,” sê Francois Viljoen, bestuurder van VinPro se wingerdkundige konsultasiediens.

Die Swartland- en Paarl-streke het heelwat groter oeste behaal na skerp dalings in 2016. Robertson se tonnemaat is naby aan die rekordoes in 2016, terwyl die Olifantsrivier- en Breedekloof-streke effens gestyg het na klein oeste verlede jaar. Ietwat kleiner oeste is in die Noord-Kaap, Stellenbosch en Worcester aangeteken, en ’n heelwat kleiner oes in die Klein-Karoo.

Hoewel groter reënval as in die 2016-seisoen in sekere streke ’n mate van verligting gebring het, was dit steeds ondergemiddeld en het die warmer weer produsente genoop om watertoediening noukeurig te bestuur.


“Die droë toestande het egter uiters gesonde wingerde meegebring en die kleiner korrels wat daaruit spruit, beskik oor goeie kleur- en geurkonsentrasie. Hiermee saam was die ideale koeler weerstoestande gedurende parstyd die perfekte kombinasie vir ’n uitsonderlike gehalte wyndruifoes,” sê Viljoen.

Beste in jare

Siobhan Thompson, hoof uitvoerende beampte van Wines of South Africa, is ook positief. “Uit gesprekke met heelwat van ons produsente is die algemene sentiment dat die oes een van die beste in jare was, spesifiek in terme van gehalte.

“Die koeler as normale weer gedurende Februarie het tot ’n meer egalige rypwordingstydperk gelei en wynmakers van verskeie streke het positiewe kommentaar oor die uitkomste gelewer ondanks uitdagende weerstoestande. Ons sien ook daarna uit om te sien wat die uitwerking van hierdie uitsonderlike oesjaar op Suid-Afrikaanse wyne as geheel in internasionale markte gaan wees,” sê sy.


“Ons is dankbaar dat die weer so goed saamgespeel het gedurende die 2017-seisoen, maar met die 2018-wyndruifseisoen in ons midde hoop ons werklik vir goeie reënval in die komende na-oestydperk en winter,” sê Viljoen.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4,1% van die wêreld se wyn.

Totale oesgrootte

Die 2017-wyndruifoes word op 1 425 283 ton geraam deur die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-inligting en -stelsels (Sawis). Dit is 1,4% groter as in 2016.

Na verwagting sal die 2017-wynoes – sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit – 1 106,3 miljoen liter beloop, bereken teen ’n gemiddelde verhaling van 776 liter per ton druiwe.

2016/17-groeiseisoen

Die na-oestydperk (April en Mei) was buitengewoon warm en droog, wat in sommige streke tot vroeë blaarval gelei het, en reserwe-opbou was matig.

Die winter het in die meeste gebiede laat aangebreek, maar was koud genoeg om dormansie op te hef. Hoewel die reënval in sommige streke hoër as gedurende die vorige groeiseisoen was en die oes kon deurdra, was dit steeds ondergemiddeld en dam- en grondwatervlakke het onder druk gebly. Produsente moes dus oordeelkundig besproei.

Die lente het op tyd aangebreek en warm weer in Augustus het tot effens vroeër as normale, maar egalige uitbot bygedra. Koeler weer in September het egter tot laat en onegalige uitbot op plekke gelei. Oktober en November is gekenmerk deur koel nagte en warm dagtemperature, wat gunstig was vir blom en set. Sommige produsente in die Breedekloof- en Worcester-streke het egter in Oktober swartryp ervaar, wat beperkte verliese meegebring het.

Die groeiseisoen en veral parstyd is vanjaar gekenmerk deur koeler nagte en warmer, droër dae, wat bevorderlik was vir kleur- en geurvorming. Parstyd het in die meeste streke op die normale tyd afgeskop, met die uitsondering van die Noord-Kaap, wat weens gereelde reënbuie twee weke laat begin het. In Stellenbosch het groot reënbuie aan die begin van parstyd ook bottelnekke by sekere kultivars veroorsaak.

’n Groot voordeel van die droë seisoen is dat siektes en plae oor die algemeen beperk was.

Wynpotensiaal

“Verbruikers kan beslis uitsien na ’n uitsonderlike 2017-oesjaar,” vertel Viljoen.

Die droë, warm weer het gesonde druiwe en klein korrels met goeie intensiteit meegebring. Koeler nagte en warmer dae gedurende die rypwordingstydperk het die kleur- en geurvorming ’n verdere hupstoot gegee, wat belofte vir uitstekende gehalte wyne inhou.

Druifontledings sien goed daar uit en is in die meeste streke gekenmerk deur voldoende suikervlakke en lae sure.

Oorsig van die streke

Breedekloof: ’n Effense groter oes as in 2016 na een van die droogste groei- en rypwordingstydperke ooit.

Klein-Karoo: ’n Heelwat kleiner oes weens droë weerstoestande en ’n krimpende wingerdstand.

Malmesbury/Swartland: ’n Aansienlik groter en uitsonderlike oes na ’n skerp daling in 2016.

Olifantsrivier: Ideale weerstoestande lei tot ’n effens groter oes van goeie gehalte.

Noord-Kaap: ’n Seisoen van uiterstes en variasie tussen produsente dra tot ’n algehele afname by.

Paarl: ’n Goeie toename na ’n heelwat kleiner oes in 2016, met uitstekende druifontledings.

Robertson: ’n Droë, warm seisoen bring ’n bogemiddelde opbrengs mee, naby aan die rekordoes in 2016.

Stellenbosch: ’n Uitdagende seisoen dra tot ’n kleiner, maar belowende wyndruifoes by.

Worcester: ’n Gesonde en gemiddelde grootte oes vir dié streek, maar steeds effens kleiner as in 2016.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?