Rokerige blomkool-en-patatsop

Hierdie sop is gelukkig nie ’n resep wat ’n lang kooktyd verg nie. Jy kan dit maklik binne ʼn halfuur maak, maar die geure en die knusse omhelsing sal jou nog lank bybly.

Genoeg vir 4 tot 6

Bestanddele:

3 eetlepels olie
6 repies swoerdlosie strepiespek, in stukkies gesny
3 groterige uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 1 cm knoets vars gemmer
1 rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in stukkies gesny
1 groot of 2 kleiner patats, geskil en in blokkies gesny
1 kleinerige blomkool, in blommetjies gebreek en die harde stronk gedeeltes in blokkies gesny
1 eetlepel gerookte paprika
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
6 – 8 koppies hoenderaftreksel (afhangende van hoe dik jy die sop wil hê)

Metode:

Verhit die olie en braai die spek daarin totdat dit alkant verkleur het. Voeg die uie by en braai tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die soetrissie, patat en blomkool byroer.  Voeg die paprika by en geur met sout en peper. Laat die groente vir ongeveer 10 minute smoor. Voeg solank ʼn klein bietjie aftreksel by indien jy bang is vir aanbrand. Voeg die res van die die aftreksel by en laat vir 10 tot 15 minute prut of totdat die groente heeltemal sag en gaar is. Gebruik ʼn handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Maak deurwarm en bedien.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?