Reën breek nog nie droogte in Noord-Kaap

Dit het wel sedert 2 Januarie goed in die Noord-Kaap gereën, maar die droogte is nie gebreek nie. Op die pad van Upington na die Nakop-grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië het ’n vinnige bui reën Maandag ’n namiddag-lafenis oor die veld kom uitstort. ’n Troppie maer beeste wat aan die skouer van die pad gewei het omdat daar nie werklik meer weiding in die kampe oor is nie, draf nader na die waterplasse op die teerpad.

Die koeie teug diep, maar versigtig, asof hulle bang is die bietjie water droog op. Daar is kalwers wat ook nog moet drink. “Die Noord-Kaap is mos ’n ander plek. Die reën kom mos ewe skielik van nêrens af,” sê Charné Krüger, ’n boervrou van Kenhardt in die Boesmanland, wat elke dag nog positief op uitkoms wag. Hier, sê die boere, reën dit strepe, vetkolle maar meestal net op die bure se lyndraad. Ofskoon die streek net ná Nuwejaar ongeveer 14 mm reën gehad het, was daar weinig tot geen opvolgreën nie.

Bron : www.klk.co.za/reen-breek-nog-nie-droogte-noord-kaap/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?