Raad en feeskomitee besluit oor Madeliefie Makietie

Die Matzikama Munisipale raad nooi almal uit om die “Juweelfees” wat op 29 en 30 September in Strandfontein gehou gaan word, te ondersteun.

Elizna Mouton, skakelbeampte van die Matzikama-munisipaliteit, het in ’n persverklaring gesê die fees lok nie net toeriste na die Matzikama-streek gedurende ’n tyd wat normaalweg stil is nie, dit bemark ook die streek se toerisme-aantreklikhede.

“Die fees is ’n beduidende inspuiting tot die plaaslike ekonomie van veral die omliggende dorpe maar ook tot die munisipale ekonomie in geheel,” het Mouton gesê.

Stokkies van Zyl, voorsitter van die Madeliefie Makietie en die feeskomitee, het dit goedgedink om die gewilde fees na Strandfontein te verskuif en die volgende is aan die raad voorgelê:

Dat die raad oorweging skenk aan die versoek om: Strandfontein, die munisipale kampeerplekke asook chalets kosteloos beskikbaar te stel vir die tydperk van 26 September tot 2 Oktober aan die bogenoemde feeskomitee.

In ruil hiervoor word die volgende aan die munisipaliteit gebied:

  • Die dorp se strate, sypaadjies en openbare areas sal skoongemaak word en alle slaggate in die dorp se paaie sal herstel word.
  • Kampeerareas van die T-blok, Perdeskoen en chalets sal opgeknap word en die ablusie-geriewe geverf en skoongemaak word.
  • Die A-blok (wat tans vir veiligheidsdoeleindes gesluit is) se beskadigde terras sal uitgegrawe en herstel word en riool-, krag – en wateraansluitings sal op die nuwe terras geïnstalleer word.
  • Erosiewerende materiaal sal teen die nuwe A-blok terras aangebring word.
  • Die herbruikbare ablusiegeriewe van die A-blok sal opgeknap en geverf word.
  • Kusweg sal opgeknap word, ’n gruisdeklaag kry en ekstra bome sal daar aangeplant word.
  • Die braaigeriewe asook ablusiegeriewe van die dagkampeerderarea sal opgradeer word.
  • Die reëlings in die Perdeskoen sal herstel en geverf word.
  • Alle grasperke en plantegroei sal kunsmis kry gedurende die winter en voorbereidingstyd van die fees.

Op 3 Junie 2017 het die raad bogenoemde as goedgunstig/voordelig vir die munisipaliteit beskou. Direktoraat Publieke Werke en Basiese Dienste sal betrokke wees by die projek asook die suksesvolle voltooiing daarvan.

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word of by 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/).

      

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?