Planne gemaak om hoenderbedryf te red

Maatreëls van die Departement van Handel en Nywerheid kan die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf uit die kloue van hoenderstorters red.

Die opstel van maatreëls om Suid-Afrika se hoenderbedryf uit die kloue van hoenderstorters te red en meer mededingend te maak, vorder goed. Dít blyk uit openbare verhore van die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid.

“Die land kan nie bekostig om sy nywerheidskapasiteit in die pluimveesektor te verloor nie. Afhanklikheid van hoenderinvoer hou risiko’s in vir die land se voedselsekuriteit, veral gegewe die onstabiele rand,” het mnr. Garth Strachan, adjunkdirekteur-generaal vir nywerheidsbeleidontwikkeling by die Departement van Handel en Nywerheid, gesê.

Die bedryf dreig om ineen te stort weens enorme groei in die invoer van bevrore hoenderstukke aan die been. Strachan het gesê dit is van nasionale belang dat die Regering afleggings en die sluit van fabrieke voorkom én beskerming aan die waardeketting van die pluimveesektor bied. Suid-Afrika is een van die min lande wat onbeperkte invoer van hoender toelaat, wat hom ’n maklike teiken vir hoenderstorting maak.

Mededingendheid
Strachan het gesê sleutel-areas van die bedryf is onmededingend, vernaam meganies-ontbeende hoendervleis, maar dit bied ’n geleentheid vir die Regering en die bedryf om saam te werk, belegging te verseker en mededingendheid te verhoog.

Regeringsbystand aan die bedryf kan ook dien as aansporing om die sektor te transformeer. “Die hele benadering is gebaseer op die feit dat daar tegemoetkomings sal wees wanneer die Regering na voorsieningsmaatreëls, aansporings vir landbouverwerking en bedryfsfinansiering gaan kyk. Ons praat ook met die Land Bank oor transformasie en die aanskaffing van grond in die waardeketting.”

Die Departement van Handel en Nywerheid werk saam met die Nasionale Tesourie aan nuwe regulasies vir voorkeuraanskaffing sodat staatsinstellings meer plaaslik vervaardigde produkte koop. Mnr. Siyabulela Tsengiwe, hoofkommissaris van die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac), het gesê handelsmaatreëls alleen sal nie die hoenderprobleem met die Europese Unie oplos nie.

Tsengiwe hoop op die ontwikkeling van ’n nywerheidsbeleid vir die sektor sodat ’n ekonomies vatbare en volhoubare pluimveebedryf in die medium en lang termyn verseker is.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?