Plaaslike talent gee terug

Dit is altyd besonders wanneer iemand wat in die Matzikama-streek grootgeword en as mens gegroei het, weer aan die gemeenskap teruggee. Henrico Snyders, ’n 19-jarige jongman van Vredendal-Noord, is ’n besondere voorbeeld hiervan.

Snyders beplan om aan die gemeenskap terug te gee en plaaslike talent te bevorder deur ’n Eternal Praise Festival in die volgende drie maande aan te bied en plaaslike sanggroepe te betrek.  Dié fees belowe om volgens Snyders baie groot te wees.

“Ek het my sangtalent maar in die Sondagskool-klas ontdek, en ek is so dankbaar vir die kerk wat dit raakgesien het en my die geleentheid gegee het om my passie uit te leef,” het Snyders vertel.

Snyders, ’n eerstejaar LLB Regte student aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het op ’n jong ouderdom na die area verhuis en het sy skoolloopbaan in 2016 aan Hoërskool Vredendal voltooi. Snyders het al vorige konserte gedoen en ook by produksies van Hoërskool Vredendal opgetree terwyl hy daar ’n leerder was.

Terwyl hy vakansie hou, oefen hy en sy span baie hard om die beste terug te gee aan die gemeenskap wat hom getrou ondersteun by al sy konserte.

“Ek het groot planne vir die toekoms en ek wil dit graag eendag terugploeg in die gemeenskap. Die fees poog daarin om oud en jonk te vermaak en ook ’n geestelike hupstoot te gee,” sê Snyders.

Daar sal volgens Snyders binnekort meer inligting bekend gemaak word.  

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?