Opvoeders groet Maskam Primêr

Dit is die einde van die 2017 skooljaar en skoolleerders en opvoeders sê totsiens vir mekaar tot die volgende skooljaar in 2018, maar vir drie opvoeders van Maskam Primêr op Vanrhynsdorp is dit hul laaste jaar in die onderwys-bedryf.

Die opvoeders wat die skool groet is as volg:

Juffrou Joyce Bergh:

Mev. Joyce Bergh was 20 jaar oud toe sy in 1978 begin werk het, waarvan die een jaar by Maskam Primêr was. Sy het vir drie maande by verskeie skole naby Stellenbosch gewerk. Vandaar is sy na Uitkyk Primêr vir drie maande en daarna na Urionskraal Primêr waar sy vir 34 jaar skool lank gehou het. As gevolg van skole wat deur die WKOD gesluit is, het sy weer in 2014 na Maskam Primêr terugkeer. Sy groet die skool einde vanjaar. Volgens Bergh het sy haar onderwysloopbaan terdeë geniet.

“Ek dank die Liewe Heer vir ’n vol lewe wat ek kon hê in die onderwys en ek sal altyd al die mooi herinneringe koester,” sê Bergh.

Meneer Jan Kouter:

Jan Kouter het in 1975 aan die destydse Fanie van der Merwe Hoërskool op Calvinia gematrikuleer. Hy het hierna vir ongeveer drie jaar in die boubedryf gewerk voordat hy ongediplomeerde onderwys gaan gee het aan Elizabethfontein (Morawiese Primêre Skool – Betjiesfontein) buite Clanwilliam. Hy was daar van 1979 tot 1984. As gevolg van onsuksesvolle aansoeke na die destydse onderwysers opleidingskolleges in 1985, het hy weer in April 1986 ongediplomeerd onderwys begin gee aan Gifberg NGK Primêr naby Vanrhynsdorp. Na sowat drie jaar by Gifberg NGK Primêr het hy aansoek gedoen by ’n onderwys-opleidingskollege in 1989, waar hy aanvaar is. Hy het sy onderwysersopleiding van 1990 tot 1992 by Bellville Onderwys Kollege ontvang.

Hy begin weer op 1 Januarie 1993 by Gifberg NGK Primêr, waar hy vir meer as 7 jaar onderwys gegee het (tot Junie 2000) voordat die skooltjie gesluit het weens kwynende leerdergetalle. Hiervandaan is hy in 2000 oorgeplaas na die Maskam Primêre Skool.

Nou, ná byna 17 jaar, gaan hy einde Desember sy onderwysloopbaan hier afsluit en die bordkryt neersit.  

Die skool se personeel en leerders salueer die waardige opvoeder wat hy was.

Juffrou Johanna Engelbrecht:

Sy begin in 1980 haar onderwysloopbaan by Brandvlei Primêr as jong opvoeder en sluit in  1987 by Maskam Primêre Skool aan. Sy het aan die destydse Zonnebloem-kollege afgestudeer. Juffrou Johanna Engelbrecht, alombekend as juffrou Henna, was ’n geliefde graad 2-onderwyseres wat al die volle spektrum van Grondslagfase-onderwys skoolgehou het. Tydens die jare van multigraad-onderwys is daar geroteer en was dit niks snaaks om skool te hou in graad 1, dan aan te beweeg na graad 2 en ook graad 3 nie. Nou, na meer as 30 jaar ononderbroke diens hier, verlaat sy die onderwysdiens met groot genoegdoening.

Sy het vir ’n groot deel van haar onderwysloopbaan goeie gesondheid geniet, maar veral in die laaste jare begin sukkel met haar gesondheid. Hierdie jaar veral, het sy in die laaste twee kwartale heelwat dae met siekverlof by die huis gebly as gevolg van haar siekte.

“Ons hoop sy herstel in só ’n mate dat sy die dae wat voorlê kan geniet met haar familie en sy verdien nou ’n welkome wegbreek weg van skoolhou,” sê Pedro Booyse, skoolhoof van Maskam Primêr.

“Ons skool groet nou die drie opvoeders en wens hulle ’n rustige uitdienstrede toe,” voeg Booyse by.

   

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?