Ons foodie safari by Spice Route

Ons foodie safari by Spice Route

Daar is meer as genoeg redes wat ’n besoek aan die Kaapse Wynlande regverdig, maar sommige redes is beter as ander. Lees meer oor Liezel Malherbe se ervaring by Spice Route, ’n bestemming wat sonder twyfel bo die res van jou Kaapse ervarings sal uitstaan.

Ons was genooi na ’n tipe foodie-safari, waar ons proe-proe die Spice Route deur gemaak het. Ons het saam met ’n string ander besoekers gearriveer om die interessanthede te verken en luilekker op die sonnige Saterdag te ontspan.

Gewoonlik sou ons ons pad na die hoof aantreklikhede aan die top punt van die landgoed vind, maar die dag was anders toe ons by die ingang eers by Brenda se Deli ingeloer het. Tot my skok en plesier, kon ek nie glo ons het nog nie van tevore daar ’n draai gemaak nie. Die deli word bedryf deur Brenda de Jager, ’n foodie wat inspirasie verkry uit haar reise deur Marokko, Spanje en Argentinië. Die klein winkeltjie is vol gepak met eksotiese speserye, lekkernye en produkte wat vry is van preserveermiddels en skadelike bymiddels.

Vir middagete, het ons besluit om Bertus Basson by Spice Route te besoek. Jy mag dalk al my volledige resensie oor daardie ervaring gelees het (indien nie, besoek dit hier), dus sal ek nie weer te veel dwaal in my ervaring nie. Wat ek wel sal noem, is dat Bertus Basson ideaal is as jy opsoek is na trooskos wat kwaliteit skree. Jy kan uitsien na asemrowende uitsigte en geregte soos luukse vis en chips, bobotie en hoenderlewertjies. Liplekker!

Na middagete het ons na die wynproe-area gedwaal waar ons van die Spice Route-wynkelder se bederfies geproe het (probeer die Chakalaka!). Daarna het ons by Wilderer aan ’n glasie gin geteug voor ons by die Trading Company-winkel ingeloer het om te kyk na hulle verskeidenheid plaaslike klereontwerpe en dekor.

Die Wilderer Distilleerdery is binne La Grapperia Pizza en Bistro (vir dié wat lus is vir hartlike kos en pizza) aan die ver ent van Spice Route. Wilderer, wat deur meester-distilleerder, Helmut Wilderer en sy span bedryf word, is wel bekend vir hul bekroonde Fynbos Gin. Hulle maak ook ’n reeks interessante harde hout, onder meer Grappa Muscato en Perske Mampoer. Ons het ’n bietjie van als probeer – vertrou my as ek sê, dit slaan jou asem weg – en dit was fassinerend om als te proe en die verskillende geure te vergelyk.

Ons het besluit om iets vir die soettand by De Villiers Sjokolade, tuiste van DV Vakman Sjokolade, te kry voor ons die pad huis toe aandurf. Die De Villiers familie is van die min “boon tot stafie” mikro-sjokolade produsente in die wêreld en jy kan al hul handgemaakte skeppings op die plaas proe. Van my gunstelinge was die DV Thins, stafie dun koekoesneut en donker sjokolade happies waaraan mens kan smul.

Daar is so baie om te proe en te probeer by Spice Route, dat jy definitief meer as een dag nodig het om jou pad deur als te maak. Ek was gelukkig om al op meer as een geleentheid die plaas te besoek. Buiten die genoemde plekke, kan ek ook die burgers by Biltong en Barley, die bier by CBC (die Amber Weiss is my gunsteling) en die soutvleise van Richard Bosman aanbeveel. Dit is ook absoluut die moeite werd om jou dag met ’n roomys en koffie by die DV-kafee af te sluit.
Wanneer die son weer sy gesig wys sal ek dit sterk aanbeveel om jou gunsteling mense bymekaar te kry vir ’n heerlike dag by Spice Route. Jou magie sal beslis dankbaar wees.
Vir meer inligting gaan na spiceroute.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?