Om ’n oorbruggingsjaar te neem of nie?

Matrikulante is nie altyd seker wat om náskool te gaan doen nie. Hulle staan dan voor die keuse om of dadelik te gaan studeer of om ’n oorbruggingsjaar te vat.

Leerders sit gewoonlik met hul hande in die hare as gevolg van die geweldige druk wat die samelewing, hul familie of vriende op hulle plaas. Dit word dan verwag van die leerders om hierdie volwasse en verantwoordelike besluit oor hul toekoms te neem.

Aan die einde van die matriekjaar weet baie leerders nog nie wat om te studeer nie. In sulke gevalle is dit goed om ’n oorbruggingsjaar (of soos dit ook bekend staan, ’n gap-jaar) te oorweeg.

Fredericks Lekay, adjunkhoof by Vredendal Senior Sekondêr, sê dat ’n gap-jaar van verskillende faktore afhang.

“Emosionele volwassenheid, finansiële posisie, selfdissipline en ’n gebrek aan beplanning is faktore wat belangrik is,” sê Lekay.

Lekay se raad aan matrikulante is om hulself met positiewe mense te omring om sodoende te verseker dat die uitkyk op hul visie nie verdof nie.

Student aan Boland College, Tracey Adams, verduidelik dat ’n brugjaar gewoonlik verwar word met ’n blote joltyd. Sy sê dat hoewel daar niks verkeerd is daarmee nie, is dit goed om iets produktief te doen.

“In my oorbruggingsjaar het ek op Vredendal gewerk en so begin spaar om my pa te help met my huidige studies,” sê Adams.

Om te gaan werk is dus nie die enigste opsie nie. Daar is verskillende brugjaarprogramme wat gevolg kan word. Jy kan selfs oorsee gaan!

Monique Brandt, wat au pair-werk in Amerika gaan doen het, sê sy het nie geweet wat om te studeer nie.

“My tyd in Amerika het met baie uitdagings gekom, maar ek het geleer om onafhanklik te wees en dit het my ’n beter mens gemaak,” sê Brandt.

Brandt vertel verder dat haar tyd in Amerika ongelooflik was, want sy kon plekke soos die Bahamas, New York en Miami besoek.

“Om au pair-werk in jou oorbruggingsjaar te doen, is definitief die moeite werd,” voeg sy by.

Leerders wat kies om die gap-jaar te volg, moet egter seker maak dat die jaar goed beplan word. ’n Onproduktiewe oorbruggingsjaar kan veroorsaak dat jy motivering verloor om die volgende jaar verder te studeer. Dit is dus belangrik om die nadele van ’n oorbruggingsjaar in ag te neem. Waardevolle matriekwerk kan maklik vergeet word en dit kan ook finansieël teenspoedig wees, as die jaar nie goed benut word nie.

Estwin Oktober, oudleerder van Hoërskool Vredendal glo nie ’n gap-jaar is ’n goeie idee nie.

“Ek hou daarvan om in die proses van studie te bly. Ek was bang ek raak te gemaklik met die idee van ’n gap-jaar, dat dit later twee of drie jaar raak,” vertel Oktober wat tans aan die Universiteit van Wes-Kaap studeer.

Indien jy wel ’n oorbruggingsjaar oorweeg, maak seker van jou opsies. Praat met iemand wat dit ook gedoen het om ’n meer realistiese idee te kry van wat so ’n jaar behels en doen jou navorsing! Gaan lees gerus meer op die volgende programme se webtuiste vir meer inligting oor wat hulle aanbied:

Volunteer Centre: www.volcent.co.za
Work and Travel South Africa: www.worktravelsa.org
Christen Instansie: www.yearofyourlife.co.za
CCUSA: www.ccusa.co.za
Projects Abroad: www.projects-abroad.org.za
Warriors: www.warriors.co.za
YDP Work and Travel: www.ydp.co.za
Au Pair in America: www.planmygapyear.co.uk/southafrica

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?