Nuwe Middelpos-staproete open saam met Erns Grundling se Elders-boekbekendstelling

Saterdag, 2 Desember, beloof om ’n dag vol pret, ’n bietjie vars lug en oefening, heerlike kos én pitkos vir die siel te wees by die Middelpos Diensstasie in die Karoo. Dit is die amptelike opening van die Middelpos Erfenis Wandel/Heritage Walk wat saamval met ’n boekbekendstelling deur die skrywer, reisjoernalis en TV-aanbieder Erns Grundling.

Middelpos is ’n klein gehuggie op die R354 tussen Calvinia en Sutherland, bekend vir sy hotel, bokboerdery, kaasfabriek, hondetelery en egte Karoo-gasvryheid. Dié nuwe 8 km lange staproete is ontwikkel deur Madeleine Bothma, wat ook onlangs die diensstasie op Middelpos gekoop en gerestoureer het. Die diensstasie is ingerig om te help met enige noodgevalle, waarvan die bandediens vir reisigers in die Karoo die spilpunt is. Mettertyd word daar ook beoog om herstelwerk by die diensstasie te bied en met verskeie projekte terug te ploeg in die plaaslike gemeenskap.

Die erfenisroete begin by die Middelpos Hotel en neem ’n mens deur die ontstaan van Middelpos en verskeie bakens, so ver terug as die Anglo-Boereoorlog.

“Die Middelpos Staproete is die eerste van baie projekte wat aangepak word om vir die besoeker én plaaslike inwoner iets te bied wat ’n blywende indruk sal maak op elkeen se pad vorentoe, om weer bewus te raak van ons mooi natuurskoon en ryke erfenis,” sê Madeleine.

“Hierdie is net ’n halfwegstasie op jou reis deur die pragtige Karoo. Ons by Middelpos Diensstasie wil jou Wiel & Siel voed vir die pad vorentoe.” Dit is juis met die “Siel” in gedagte dat Erns Grundling genader is om die roete te open en ’n boekbekendstelling hier aan te bied. Elders, Erns se boek oor sy Camino-staptog van 2015, is ’n topverkoper en reeds in sy vierde druk.

“Ek sien baie uit daarna om weer terug te keer na Middelpos,” sê Erns. “Ek het Middelpos vroeër vanjaar besoek tydens die Weg Agterpaaie Karoo-reeks saam met Toast Coetzer. Ons het ’n wonderlike kuier saam met Koos en Helena van der Westhuizen by die Middelpos Hotel gehad. Dit was ook die eerste keer dat ek bokmelkbotter geëet het, en ek kan dit vir almal aanbeveel.”

’n Vol dag se aktiwiteite word beplan: Die Saterdagoggend om 09:00 kom almal bymekaar vir koffie en muffins, waarna die staproete amptelik geopen word. Hierna gaan almal saam die roete stap en Erns gaan by verskeie punte voorlees uit Elders en deel oor wat stap vir hom beteken.

Ná die staproete geniet gaste ’n ligte middagete, waarna almal die middag kan ontspan of Middelpos verder verken. In die laatmiddag kom almal weer bymekaar by die Middelpos Diensstasie, waar Erns ’n boekbekendstelling gaan hou, meer oor die Camino en sy reise gaan deel en ook eksemplare van Elders sal verkoop en teken.

Hierna beweeg almal na ’n saaltjie op Middelpos, waar die vure reeds buite gaan brand en ’n heerlike spit bedien gaan word. Erns het ook onlangs teruggekeer na die Camino. In September vanjaar het hy en ’n klein kameraspan gaan stap om ’n dokumentêre reeks vir kykNET te skiet. Elders: Die Camino gaan van Dinsdag 2 Januarie 2018 om 17:30 op kykNET uitgesaai word. Die reeks gaan ook op Showmax beskikbaar wees. Erns beplan om tydens sy boekbekendstelling ’n voorskou van dié reeks te wys en ook meer van dié tweede Camino te vertel.

“Wat my veral opgewonde maak oor die dag op Middelpos is dat dit op ’n manier soortgelyk is aan ’n dag op die Camino,” sê hy. “Jy staan op, eet iets en begin stap in die oggend, geniet ’n siesta in die middag en kuier lekker saam met ander pelgrims in die aand. As ek so na die program kyk, gaan ons ’n lekker Camino-dag saam by Middelposdeurbring. Dit is wonderlik om by so ’n positiewe inisiatief soos die Middelpos Diensstasie betrokke te wees.”

Besprekings:
Kaartjies vir die hele dag kos R200 per persoon – dié prys sluit alle etes en aktiwiteite in. Gaste wat slegs die boekbespreking en aandete kan bywoon se kaartjies kos R120 per persoon.
Die Middelpos Hotel en omliggende gastehuise het blyplek vir tot 50 mense, so bespreek eerder vroeër as later.

Aangesien die verrigtinge eers ná 09:00 op die Saterdag begin, is daar genoeg tyd vir gaste om nog die oggend vanuit omliggende dorpe na Middelpos te ry.

Bespreek by Madeleine Bothma by 073 260 5305 of madeleine@hantam.co.za – Madeleine kan ook help met kontakte vir verblyf in die omgewing. Die Middelpos Hotel (027 341 2507) kan ook gekontak word vir verblyf.

Kontak Erns Grundling by 076 971 0206 of katvis22@gmail.com vir onderhoude.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?