Wes-Kaapse Departement van Gesondheid se fokus

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid fokus vandeesmaand op kosblikidees. Dit mag dalk nie ernstig klink nie, maar vir ’n kind wat soms meer as ses ure by die skool is, kan die kos in hul blik bepaal of hulle die beste uit hul dag sal kry. Dit is dus belangrik om jou kind van ’n gebalanseerde dieet te voorsien.

Kinders het energie nodig om deur die dag te kom. Energieryke kos kom grootliks voor in stysels, maar ook in vette en proteïene. Dit is dus wys om te begin met ’n styselbasis, soos volgraanbrood, pasta, rys en ontbytgraan. Bruinbrood of volgraanopsies verskaf ook veel wat belangrik is vir ’n gesonde dermkanaal. Vette is ook ’n energiebron, maar moet met matigheid gebruik word. Gesonde vette soos omega 3 en 6 wat in vissoorte soos sardyne en in neute voorkom, is egter goed en noodsaaklik vir die liggaam. Vermy dus gemorskos, maar jy kan wel sorg dat jou kind genoeg vette inkry deur byvoorbeeld margarien of mayonnaise op ’n toebroodjie te smeer.

Proteïenryke kos sluit in rooivleis, hoender, vis, neute en bone, suiwelprodukte en eiers. Proteïene is belangrik vir groei, is ryk aan omega 3-vette wat ook daarin voorkom en is baie goed vir breinfunksie.

Om te verseker dat kinders se bene en tande groei en sterk genoeg is, behoort jou kind ook kalsiumryke kos in sy of haar kosblik te hê. Suiwelprodukte is die beste bron van kalsium.

Vrugte en groente is natuurlike bronne van vitamiene, minerale en voedingstowwe. Dit bevat natuurlike suikerbronne vir energie en breinfunksionering, asook vesel. Vrugte en groente is ’n  moet-hê item in jou kind se kosblik.

Dit is ook belangrik vir jou kind om gehidreer te bly gedurende die dag. Veral tydens warm dae wanneer dit noodsaaklik is om genoeg water en ander vloeistowwe  in te kry. Vermy dus gaskoeldrank, energiedrankies en aanmaakkoeldrank, want dit bevat te veel suiker en kaffeïen.

Hier’s ’n paar kombinasies vir ’n gebalanseerde kosblik:

* ’n volgraanbroodjie met ham en kaas, koue Rooibostee en ’n vrug soos ’n piesang.
* oorskiet-tunapasta met ’n porsie wortelstokkies en drinkbare joghurt.
* joghurt met vars vrugte en neuter, gaar visvingers, volgraanbeskuitjies.
* koue stampmielies, opgesnyde koue vleis, laevetmelk en ’n vrug.
* muesli en jogurt, liggesoute springmielies, vars vrugtesap en klein porsie kaas of oorskietvleis.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?